az

A

Arnold Pistorius is Oscar se oom en die patriarg van die familie. Dié superryk sakeman het die meeste van Oscar se borgtog van R1 miljoen betaal nadat hy in Februarie verlede jaar weens Reeva se dood in hegtenis geneem is. Hy het sy broerskind toe ’n veilige hawe gebied in sy groot gesinswoning in Waterkloof sodat hy veral die media kon ontwyk. Oscar (27) woon glo steeds in ’n kothuis op die erf en Arnold het vir hom ’n gim laat bou sodat hy privaat kan oefen. Sy jonger suster, Aimée, bly al 11 jaar by Arnold-hulle. Oscar het ’n baie hegte band met Aimée en sy ouer broer, Carl. Albei is op die staat se lys getuies. As hulle getuig, sal hulle waarskynlik ondervra word oor Oscar se karakter en persoonlikheid. Tien sitplekke is in die hof vir sy vriende en familie opsygesit.

B

Hilton Botha was die speurder wat die ondersoek gelei en vroeg die oggend van 14 Februarie verlede jaar bewysstukke bymekaargemaak het in Oscar se huis in Pretoria. Tydens die borgtogaansoek het Hilton erken hy

het dalk die misdaadtoneel besmet deur nie plastiek-skoenbeskermers te dra nie. Die verdediging het sy getuienis uitmekaargetrek en gesê hy is “nie ’n betroubare getuie nie”. Teen die derde dag van die borgtogaansoek is hy aan die saak onttrek nadat dit bekend geword het hy word deur sewe aanklagte van poging tot moord in die gesig gestaar. Dit spruit uit ’n voorval in 2009 toe hy na bewering op ’n minibustaxi geskiet het omdat hy gedink het ’n passasier is ’n verdagte. Hy het intussen uit die polisie bedank.

C

M-Net se aktualiteitsprogram Carte Blanche gaan hul eie, toegewyde TV-kanaal op DStv hê waarop belangstellendes die hofsaak kan volg. Dis nog nie bekend of die regter gaan toelaat dat die hofsaak regstreeks opgeneem word nie. Die kanaal, The Oscar Pistorius Trial: A Carte Blanche Channel, sal op DStv se kanaal 199 wees en van ’n dag voor die verhoor af 24 uur per dag uitsaai . Diepteontleding van die hofsaak en getuienis sal onder meer gebeeldsend word.

D

Justin Divaris, een van die eerste mense vir wie Oscar ná die skietvoorval gebel het, is ’n staatsgetuie. Hy is die uitvoerende hoof van die Daytona-groep, wat van Oscar se spogmotors geborg het, en ’n goeie vriend van die atleet. Dis glo Justin wat Oscar en Reeva in 2012 aan mekaar voorgestel het. ’n Getuieverklaring wat Justin afgelê het, is tydens Oscar se eerste hofverskyning voorgelees. Daarin beskryf hy hoe ernstig Reeva en Oscar se verhouding was, en dat die atleet gedink het Reeva is dalk sy trouvrou. Justin het gesê dat Reeva soms gedink het Oscar “beweeg te vinnig” met die verhouding.

E

Eksmeisie - Oscar het ’n voorliefde vir langbeen-blondines en het al heelparty aan sy sy gehad. In 2011 het hy ’n verhouding van 18 maande gehad met Samantha Taylor, ’n mooi bemarkingstudent van Kaapstad. Sy is op die lys van staatsgetuies en sal na verwagting die aap uit die mou laat oor sy beheptheid met vuurwapens en sy beweerde onvermoë om sy humeur te bedwing.

F

Omdat daar geen ooggetuies is nie, sal forensiese kenners moet probeer uitpluis wat gebeur het. “Ballistiese spesialiste gaan die deurslag gee,” sê die Amerikaanse forensiese wetenskaplike George Hime. Daar sal ook getuienis wees van forensiese patoloë, bloedspatselkenners en misdaadtoneelondersoekers. ’n Belangrike twispunt is waar Reeva was toe sy geskiet is. Dit is bekend dat sy in die badkamer van Oscar se meenthuis was. Maar het sy gesit, soos die verdediging aanvoer, of het sy in ’n hoekie gehurk soos die vervolging tydens die borgtogaansoek beweer het?

G

Dit lyk of Oscar behep was met gewere en handwapens versamel. Die vuurwapen wat Reeva se lewe geëis het, was ’n Taurus-9 mm-Parabellum, luidens koerantberigte al wapen wat in Oscar se naam geregistreer was. Maar in 2012 het hy om lisensies vir nog ses wapens aansoek gedoen, onder meer ’n semi-outomatiese R5-geweer. Hy het die wapens reeds gekoop, maar omdat hy op die lisensies gewag het, het ’n wapenhandelaar dit vir hom bewaar.

H

Daar is bespiegel dat Oscar moontlik laat die aand van die moord ’n SMS van die rugbyspeler Francois Hougaard op Reeva se foon gekry het en dat dit hom so ontstel het dat hy haar geskiet het. Die Springbok-rugbyspeler en Reeva het in 2012 twee maande uitgegaan, maar sy het hom vir Oscar gelos. Francois het verlede jaar teenoor Huisgenoot ontken dat daar nog iets tussen hom en Reeva was.

I

Polisieondersoekers hoop Oscar se iPhone 5, wat op die bloedbesmeerde badkamervloer gekry is, wys dalk presies wat voor die skietery gebeur het. Maar Oscar beweer hy kan nie sy foon se viersyfer-PIN onthou nie. Die polisie is probeer nou by Apple in Amerika toegang tot die foon se data kry.

J

Luidens berigte gaan Reeva se ma, June Steenkamp, wat in Port Elizabeth woon, die hofverrigtinge bywoon, maar nie haar pa, Barry, nie. Reeva was hul enigste dogter. Sy het ná skool in die regte studeer, maar was ook ’n entrepreneur, televisieaanbieder en model. Die mediabelangstelling ná haar dood was so erg dat die Steenkamps

hul huis verkoop het. Hulle besit nou ’n kroeg agter ’n hotel. Hulle moes deels trek omdat hul dogter hulle onderhou het en wil nou glo skadevergoeding van Oscar eis. In die hof sal June en Oscar mekaar vir die eerste keer sien ná Reeva se dood. “Al wat ons graag wil hê, is om dié episode af te sluit en te weet dat ons dogter nie gely het nie,” lui ’n mediaverklaring.

K

Watter aanklagte verskyn op die klagstaat?

  • Moord As hy skuldig bevind word, is die minimum vonnis lewenslange tronkstraf, tensy hy die hof kan oortuig daar is geldige redes vir ’n ligter vonnis. Na gelang van hoe die verhoor verloop, kan hy ook aan strafbare manslag skuldig bevind word.
  • Die onwettige besit van ammunisie sonder ’n lisensie (patrone wat in sy huis gekry is, maar nie van dieselfde kaliber as die moordwapen is nie).
  • Twee bykomende aanklagte wat verband hou met die skiet van vuurwapens in die openbaar. In 2012 het hy glo in Johannesburg met die Reeva-moordwapen deur die oop sondak van ’n motor geskiet terwyl hy saam met vriende gery het. In ’n voorval vroeg verlede jaar het hy na bewering per ongeluk ’n vriend se vuurwapen onder ’n tafel in ’n Johannesburgse restaurant laat afgaan (sien L).

L

Oscar het sy vriend Kevin Lerena amper raak geskiet in die restaurant Tashas in Johannesburg. Die moordbeskuldigde was besig om nog ’n vriend se vuurwapen onder die tafel te bewonder toe dit per ongeluk afgaan en Kevin amper in die voet tref. Maar in ’n onderhoud het Kevin gesê daar is geen kwade gevoelens nie. “Oscar wou net na die vuurwapen kyk en dit het toe op die een of ander manier aan sy broek vasgehaak. Die veiligheidsknip het losgekom en ’n skoot het afgegaan. Ek sou nie sê hy was nalatig nie; dit was ’n ongeluk. Hy het my dae daarna nog verskoning gevra.

M

Kol. Vineshkumar Moonoo het Hilton Botha as die hoofondersoeker van die saak vervang. Hy het meer as drie dekades ervaring en ’n onberispelike getuigskrif, en word as een van die land se voorste speurders beskou. Dié getroude pa van twee het in 1981 by die polisie aangesluit en was 18 jaar in Kliptown, Soweto, gestasioneer. Hy het tot die pos streekkommissaris van die speurdiens gevorder.

N

Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria was al die arena vir talle opspraakwekkende sake.

André Gouws en Ambrose Monye is hier verhoor en lewenslank tronk toe gestuur weens die huurmoord op Chanélle Henning (26), wat op 8 November 2011 in haar motor in Faerie Glen, Pretoria, geskiet is nadat sy haar en haar vervreemde man, Nico Henning (47), se kind by ’n kleuterskool afgelaai het. En hier is die sogenaamde Modimolle-monster, Johan Kotzé (55), tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis plus nog 22 jaar weens die verkragting en aanranding in 2012 van sy eksvrou, Ina Bonnette (44), en die moord op haar 19-jarige seun, Conrad

O

Oscar Leonard Carl Pistorius is sonder fibula gebore. Op 11 maande het sy ouers, Sheila en Henké, sy bene onder die knie laat amputeer. Toe hy ’n leerder aan Pretoria Boys’ High was, het hy met kunsbene aan verskeie sportsoorte begin deelneem. Oscar het op 17 met spesiale prostetiese lemme begin hardloop. Hy is binne agt maande gekies om Suid-Afrika by die Paralimpiese Spele in Athene te verteenwoordig, waar hy die 200 m-naelloop in ’n wêreldrekordtyd van 21,97 sekondes gewen het. In 2012 het hy die eerste atleet met geamputeerde ledemate geword wat aan die Olimpiese Spele deelneem. Maar in 2013 het die lemnaeler se wêreld inmekaargetuimel toe hy sy meisie doodskiet…

P

Oscar se prostetiese bene is een van die groot twispunte in die hofsaak. Luidens sy beëdigde verklaring tydens sy borgtogaansoek het hy in die nag wakker geword, ’n geraas in die badkamer gehoor en sy vuurwapen gegryp om hom en Reeva te beskerm. “Ek het nie my prostetiese bene aangehad nie en het uiters kwesbaar gevoel,” sê hy. “Ek het geglo as die inbreker of inbrekers uit die toilet kom, sou ons in groot gevaar wees.” Hy hou vol hy het gedink Reeva was nog by hom in die bed en hy het deur die toe badkamerdeur geskiet. Maar adv. Gerrie Nel, die staatsaanklaer, het tydens die borgtogaansoek beweer Oscar het sy prosteses aangesit, 7 m ver gestap en deur die deur geskiet, wat daarop dui dat die skietvoorval “klaarblyklik moord met voorbedagte rade” is. Nog talle vrae is onbeantwoord, soos:

  • Het Oscar en Reeva die aand baklei?
  • Was die ligte in die huis tydens die tragedie aan of af?
  • Hoeveel skote is geskiet en oor watter tydperk?
  • As daar ’n inbreker was, hoekom het Oscar nie gekyk waar Reeva is nie?
  • Hoekom het Reeva haar in die toilet toegesluit? Het sy vir haar lewe gevrees?
  • Hoekom het sy haar selfoon saamgeneem?
  • Hoekom het Oscar sy iPhone na die toilet geneem en toe met ’n ander foon hulp ontbied?

Q

Quinton van der Burgh In 2012 het Oscar glo dié vervaardiger van die TV-reeks Clifton Shores gedreig omdat hy geglo het sy destydse meisie het hom met Quinton verneuk. Oscar het hom gekonfronteer en Quinton het ’n klag van intimidasie teen hom gelê. Oscar het glo ook gedreig hy sal Mark Batchelor, ’n oudsokkerspeler en TV-aanbieder, se bene breek omdat dié vir Quinton opgekom het. Mark is op die staat se getuielys; Quinton nie.

R

Dis twee gedugte regspanne wat mekaar gaan pak. In Oscar se hoek is

  • Barry Roux, ’n onversetlike verdedigingsprokureur wat graag spoggerige rooi dasse hof toe dra. Hy het meer as 30 jaar ervaring. ’n Gunsteling-tegniek is om getuiesmet taai vrae te bombardeer en dan hul getuienis uitmekaar te trek. Hy vra glo sowat R50 000 per dag. Hy het die mynmagnaat Roger Kebble suksesvol op aanklagte van belastingontduiking verdedig. Danksy hom moes die sakeman Dave King, wat tereggestaan het op 322 aanklagte van bedrog, belastingontduiking, geldwassery en afpersing, wel boetes van miljoene rande betaal, maar hy het nietemin tronkstraf vrygespring.
  • Gerrie Nel is die aanklaer. Hy het onder meer ’n gewese polisiehoof, Jackie Selebi, in 2010 suksesvol weens korrupsie vervolg. En dis nie die eerste keer dat hy en Barry mekaar pak nie: In 1999, in die verhoor van die Kempton Parkse tandarts dr. Casper Greeff weens die moord op sy vrou, Estelle Greeff, is die beskuldigde suksesvol vervolg. Hy het lewenslange tronkstraf gekry.
  • Regter Thokozile Masipa sal oor Oscar se lot moet beslis. Dié gewese joernalis, maatskaplike werker en advokaat is Suid-Afrika se tweede swart vroulike regter in die hooggeregshof. Sy het meer as 15 jaar ervaring op die regbank en het al in uitsprake in verkragtingsake klem gelê op geweld teen vroue. Sy het verlede jaar die huisrower en verkragter Shepherd Moyo tot 252 jaar tronkstraf gevonnis.

S

Die luukse Silver Woods Country Estate, omring deur elektriese heinings en met 24-uursekuriteit, klink veilig; nogtans was Oscar bang en het hy met ’n vuurwapen langs sy bed geslaap. Agttien Silver Woodinwoners en -werknemers is op die getuielys, onder wie drie van Oscar se bure. Hulle kan dalk lig werp op wat gebeur het voor en ná die skietery. Luidens die klagstaat gaan die staat aanvoer dat “van die staatsgetuies ’n vrou hoor skree het, gevolg deur oomblikke van stilte, en toe nog geweerskote en gille”. Tydens Oscar se borgtogaansoek het sy prokureurs hierdie bewerings as “hoogstens bespiegeling” afgemaak.

T

Die toiletdeur in Oscar se huis is een van die belangrikste bewysstukke. Die gewese hoofondersoekbeampte, Hilton Botha, het onthul die polisie het die deur afgehaal nadat ’n beampte baie geld aangebied is om ’n foto daarvan te neem.

“As iemand die deur steel en dit verkoop, het ons nie ’n saak nie,” het hy verduidelik. Die hoogte van die koeëlgate in die deur en die baan van die vier koeëls kan dalk aandui of Oscar op sy kunsbene gestaan het, soos die staatsaanklaer in die hof gaan aanvoer, of op sy stompies, soos Oscar sê. So kan dit help bepaal of dit moord was of nie.

U

As Oscar skuldig bevind word aan moord met voorbedagte rade, kan die uitkoms lewenslange tronkstraf wees, met minstens 25 jaar effektiewe gevangenisstraf. Oscar het ’n goeie span forensiese kenners en het ook Evidence Room gehuur, ’n Amerikaanse firma wat spesialiseer in forensiese animasie, oftewel die nabootsing van misdade. “Ons lug nie ons mening nie. Ons sê nie dis hoe dit gebeur nie; ons beskryf die toneel,” sê Scott Roder, die baas van Evidence Room. Hy het die maatskappy in 2003 gestig nadat hy voorheen in die hof skietvoorvalle met animasie voorgestel het. Scott werk jaarliks aan sowat honderd hofsake wêreldwyd en vra soms meer as R110 000 per video.

V

Die skietery was op Valentynsdag. Reeva sou daardie dag leerders van die Hoërskool Sandown toegespreek het. In haar toespraak sou sy onthul het hoe sy na bewering in ’n vorige verhouding mishandel is. (Haar aantekeninge vir dié toespraak het by die media uitgekom.) Reeva was opgewonde oor die Valentynsgeskenk wat sy vir Oscar gemaak het: ’n romantiese fotocollage van hulle twee. Sy het dit die vorige dag vir hom gegee, maar gevra hy moet dit eers op Valentynsdag oopmaak.

W

Die wêreld se oë gaan op Oscar gerig wees wanneer die hofsaak begin. Meer as honderd getuies kan geroep word, onder wie Samantha Greyvenstein, Oscar se vriend Justin Divaris se meisie. In ’n beëdigde verklaring tydens Oscar se borgtogaansoek het Samantha gesê Reeva het aan haar gesê Oscar behandel haar soos goud. “Sy het vir my gesê as Oscar haar die jawoord vra, sal sy waarskynlik ja sê.”

X

Die X-faktor. Die hofsaak het alles wat die verbeelding kan aangryp: ’n heldhaftige atleet wat sy gestremdheid oorkom het ter wille van Olimpiese glorie, ’n pragtige model, ’n vuurwapen en ’n skietery op Valentynsdag. Mediaorganisasies tot in Rusland en Argentinië is slaggereed vir die moordverhoor. Onder die materiaal wat hulle gereed kry vir die verhoor, is vooraf opgeneemde onderhoude en 3D-modelle van die huis waarin die tragedie afgespeel het.

Y

Sedert Reeva se dood het duisende internetgebruikers webtuistes soos YouTube gebruik om op die hoogte te bly van die saak. ’n Enkele huldeblykvideo aan Reeva het al meer as 820 000 trefslae, terwyl meer as 110 000 mense ’n video van Oscar se eerste hofverskyning gekyk het. Volgens Acceleration Media, ’n konsultasiemaatskappy vir digitale media, was daar tussen 14 en 20 Februarie 2013 meer as 1,3 miljoen aanlyn inskrywings oor die tragedie (sowat 130 per minuut). Hulle sê in dié tydperk was 84,4 persent van aanlyn gesprekke oor die saak op Twitter.

Z

Oscar se pa, Henké Pistorius, het in ’n onderhoud met die Britse koerant The Sunday Telegraph gesê hul familie het “zero twyfel” dat Oscar die waarheid praat wanneer hy sê hy het Reeva vir ’n inbreker aangesien. “As jy ’n sportman is, tree jy nog meer instinkmatig op,” sê hy. Die hele Pistorius-gesin staan “hart en siel” agter Oscar en sal hul bes doen om sy aansien te herstel.