Guinness World Records het ’n 90-jarige Suid-Afrikaner identifiseer as die oudste gereelde bloedskenker.

Guinness het Dinsdag 14 Junie op Wêreldbloedskenkdag hulde gebring aan Maurice.

Wanneer dié vietse 90-jarige gevra word wat hom motiveer om aan te hou bloedskenk, antwoord hy dit stel hom in staat om met min moeite baie te doen vir baie mense.

Lees ook: Jou bloed kan ’n lewe, dalk drie lewens, red

Maurice het Woensdag die Netcare Milpark-hospitaal besoek as deel van sy veldtog om sy landgenote aan te moedig om bloed te skenk.

’n Inspirasie

René Grobler, bestuurder van Milpark-hospitaal se traumaprogram, sê Maurice is ’n inspirasie.

Sy voeg by die doel is om soveel moontlik personeel, pasiënte, besoekers en ander lede van die publiek aan te moedig om hul bydrae te lewer tot die land deur bloed te skenk. Sy sê die hospitaal is baie gelukkig is om Maurice, ’n wêreldkampioen en ware bloedskenkveteraan, daar te hê om hulle verder aan te moedig.

Hierdie jaar se Wêreldbloedskenkdag is gevier met die tema “Bloed bind ons almal”.

Een eenheid bloed kan tot drie lewens red. Volgens die Internasionale Rooi Kruis kon Maurice oor die jare deur middel van sy skenkings 1 239 mense se lewe aangeraak het.

Sedert Dinsdag was die land se bloedvoorraad, volgens die SA Nasionale Bloeddiens (SANBD), net genoeg om vir 2,6 dae te hou. SANBD het genoeg voorraad nodig gehad om vir vyf dae te hou sodat hulle aan alle behoeftes kon voorsien.

’n Lewensgeskenk

Geskenkte bloed word oor die algemeen gegee aan slagoffers van ongelukke, mense wat aan uiterste bloedarmoede ly, chirurgiese pasiënte en vroue wat baie bloed by geboorte verloor.

René meen bloed skenk is ’n lewensgeskenk, en dat daar nie ’n beter manier is waarop jy kan sorg vir jou mede-Suid-Afrikaners as om jou lewensbloed met hulle te deel nie.

Lees ook: Bloed skenk is makliker as wat jy dink

Om na jou gesondheid om te sien sodat jy kan aanhou bloed skenk soos die bloedskenkkampioen wat Maurice is, is opsigself ’n beloning.

René sê die SANBD het 3 000 eenhede per dag nodig om te kan voorsien in al die pasiënte se bloedbehoeftes.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is daar ’n gemiddeld van 11,7 skenkings per 1 000 mense in die middel-inkomstelande soos Suid-Afrika in vergelyking met die 33,1 skenkings per 1 000 mense in hoëinkomstelande.

Hulle wil graag hierdie verhouding verbeter aangesien Suid-Afrikaners bekend is vir hul gees van ubuntu en bloed skenk die logiese verlenging daarvan is.

As jy vir die eerste keer bloed skenk, moet jy:

  • tussen 16 en 65 jaar oud wees;
  • minstens 50 kg weeg;
  • veilige seks beoefen;
  • negatief toets vir siektes soos MIV, sifilis en hepatitis B en C.

Bron: News24