VRAATSUG

As jy nie ’n kosblogger is nie (en selfs dan moet jy jou maar inhou!), moet asseblief nie elke liewe ding oplaai wat jy eet nie. Daardie spoggerige, graangevoerde, stadig geroosterde hoenderborsie wat jy vir jou verjaardag by ’n koel restaurant geëet het? Absoluut aanvaarbaar. Die slaptjips wat jy ná skool gekoop het? Nee wat! Jy gaan mense net honger maak. En irriteer. En verveel. En kort voor lank is jy nie meer hul FB-pel nie.

LUIHEID

Vir diegene wat te lui is om te tik (dis te veel moeite!) is die “like”-knoppie seker die beste uitvindsel ooit. Dis net jammer dit word heeltemal te veel gebruik. Wanneer is dit oukei om te klik? Wanneer iemand iets sê soos: “Jippie, ek gaan Hawaii toe/ek het die lotto gewen/ek het ’n skyfie ontdek wat lyk soos Lady Gaga!” En wanneer moet jy liewer los? Wanneer hulle skryf hul oupa is dood of hul verhoudingstatus na “enkellopend” verander. Kom nou, mense, klink dit vir julle na die regte tyd vir ’n skouerklop? Ongeskrewe FB-reël #89: Kliek net “like” vir goeie nuus.

WOEDE

As jy gal braak gal op Facebook, gaan jy voel soos ’n lid van Twilight se Cullen-gesin ná ’n jagsessie – tydelik tevrede, maar binnekort lus vir nog. Dis in die haak as jy ’n bietjie kla oor hoe die internet deesdae te veel verklap oor wat in Glee gaan gebeur (ons verstaan jou pyn), maar vermy dit asseblief om uit te vaar oor iemand-wat-nie-genoem-sal-word-nie-maar-dis-so-duidelik-soos-daglig-van-wie-jy-praat. Die persoon en jou 400 Facebook-pelle weet van wie jy praat. En pleks dat hulle dink: “Mmm, nogal insiggewend, sy het hulle omtrent gewys wie’s baas,” gaan hulle dink: “Sjoe, iemand het probleme.”

TROTS

Wie wil bygehaak word in ’n onvleiende kiekie waar jou dubbelken wys? Niemand. Maar niemand is ook lus om 20 minute lank te poseer tot jy die perfekte profielfoto geneem kry nie. Hou die Kodak-oomblikke tot ’n minimum sodat jy nie eendag hoef terug te kyk op jou tienerjare en al die tye onthou toe jy gesigte getrek en snaaks poseer het nie. As jy ’n bietjie FB-trots moet uitoefen, kry beheer oor jou beeld deur die privaatheidstellings aan te pas sodat jy foto’s waarin jy bygehaak is moet goedkeur voor dit gepubliseer kan word.

WELLUS

Dis oukei as jy ’n ogie het op iemand op Facebook, maar maak net seker jy vat gereelde blaaskanse om ander belangrike goed te doen – soos eet en slaap! En die goue reël? Beskou alles wat jy sien as NVVG (Nie Veilig Vir Gesprekke). Dis effe grillerig as hy begin praat oor ’n gesprek op sy Facebook-muur met sy pel en jy onderbreek met: “O ja, en toe sê hy . . . ” Jy het die grens na Bekruiperville oorgesteek as jy meer oor sy lewe weet as hyself.

HEBSUG

Facebook help mense aandag trek. En in die strewe na soveel “likes” moontlik, maak baie mense die fout om kriptiese boodskappe te laai. Jy ken dit alte goed – hulle is geesdriftig, maar brei nie veel uit nie. Voorbeelde: “Ek is so gelukkig!”, “Urgh, ek kan dit nie glo nie!” of “Sjoe, praat van drama!” Mense, dit is nie ’n episode van CSI nie – ons het nie ’n naelbyt-oomblik nodig voor die volgende advertensiebreuk nie en die spanning is nie besig om ons mal te maak nie. Onthou: As een van jou vriende gereeld kriptiese opmerkings maak, moet onder geen omstandighede vra wat gebeur het nie. Nooit.

AFGUNS

Ja, ons almal ken hulle. Hulle maak jou nuusvoer vol oor hul ongelooflike kêrel, fantastiese vriende en koel klere. Die doel? Om almal jaloers te maak oor hul volmaakte lewe. As jy jou hieraan skuldig maak, wees gewaarsku: Jy is een selfvoldane kiekie weg van die Unfriend-knoppie.