Eunice Sibiya, die hoof van Eerste Nasionale Bank se verbruikersopvoedingsafdeling, sê ouers huiwer soms om met hul kinders oor geld te praat omdat meen hulle is self nie kenners op die gebied nie, hul kinders nog te jonk is om finansiële konsepte te begryp of hul kinders gaan dieselfde foute as hulle begaan. “Maar daar is vier basiese konsepte en gebruike wat jy jou kind op verskillende ouderdomme kan leer wat hulle met die kennis gaan toerus om in die toekoms goeie finansiële besluite te maak,” sê sy.

Tussen drie- en vyfjarige ouderdom

Kinders in dié ouderdomsgroep is te jonk om konsepte te verstaan soos finansies, spaar en begroting, maar daar is geleenthede om basiese finansiële konsepte aan hulle voor te stel. “Baie van ons was al by die supermark in die ry en die kleintjie wil ’n speelding of lekkerny hê. Dit is ’n goeie tyd om ’n paar basiese konsepte tuis te bring,” voeg Eunice by.

Kinders kan op hierdie ouderdom verstaan dat jy geld nodig het om dinge te koop; as jy nie geld het nie, kan jy niks koop nie. Nog ’n wenk is om te verduidelik al manier om geld te verdien, is om te werk. Moedig hulle dan aan om byvoorbeeld takies in die huis te verrig om geld te verdien.

Eunice sê: “Verduidelik die verskil tussen behoeftes en begeertes. Terwyl jy in die supermark is, kan jy na byvoorbeeld seep, kos of toiletpapier wys en sê dis behoeftes, en dan die opsionele items – begeertes – soos koekies of sjokolade uitwys.”

Tussen ses en 10

Kinders in hierdie ouderdomsgroep is bewuster van geld en meer opgewonde om dit in die hand te hê. Hulle ontvang dalk geld vir ’n verjaardaggeskenk of as sakgeld. Nou kan ouers hulle leer oor spaar en geldbestuur. Hulle kan selfs hul eie bankrekening hê, en dit in ’n mate (met ouertoesig) bestuur. Op dié ouderdom kan kinders besluite oor geld maak, pryse vergelyk en leer spaar.

“Dit is nie so moeilik om kinders te leer oor spaar nie; hulle kan konsepte begryp, veral wanneer jy dit in ’n daad omskep, soos om geld in ’n spaarblikkie te gooi. Dit is die eerste stap in jou kind se opvoeding oor die belang van spaar,” sê Eunice.

Tussen 11 en 15

Jou kind kan nou ingewikkelder konsepte verstaan. “Leer jou kinders hulle moet ’n gedeelte spaar wat alle geld wat hulle kry, of dit verjaardaggeld of sakgeld is. Wanneer hulle hul spaardoelwit bereik het, kan hulle ooreenkomstig beloon word. Wys hulle hoe geld groei wanneer dit gespaar word. Dink ook daaraan om by te dra tot jou kind se spaargeld om hulle verder te motiveer,” sê Eunice.

Tussen 16 en 18

In hierdie stadium is dit belangrik dat jou kind ’n grondige begrip het van hoe geld werk. Hulle sal nou eienaarskap van hul geld wil hê en self daarmee werk. Dit is belangrik dat jou kind die belang hiervan besef; ouerleiding is steeds nodig.

“In dié stadium kan jy beleggingskonsepte en die belang van finansiële dissipline inbring. Kinders van hierdie ouderdom moet ook volgens ’n begroting werk en dit met ouerhulp kan bestuur,” sê Eunice.

Ouer as 18

Kinders van dié ouderdom moet finansieel so afhanklik moontlik wees. “As jy dinge reg gedoen het, sal jou kind hul finansies op ’n dag-tot-dag-basis kan hanteer, ’n bankrekening het, die rekening verantwoordelik kan gebruik en hul spaargeld oordeelkundig kan gebruik,” sê Eunice.

“ ’n Kind is ’n lewenslange verpligting, en jy gaan jouself en jou kind benadeel as jy die onderwerp van geld en finansiële bestuur vermy. Die beste ding wat jy vir jou kind kan doen, is om ’n onafhanklike, selfversekerde individu groot te maak wat finansieel verantwoordelik is,” sluit Eunice af.

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.