Prinses Diana se spook het aan Kate Middleton verskyn en gesê sy is “te maer”, beweer die psigiese geneser Simone Simmons.

Diana, wat teen bulimie baklei het, is in 1996 in ’n motorongeluk dood. Simone beweer nou Diana het haar skoondogter – wat in Julie die lewe geskenk het aan haar eerste kind, prins George – gewaarsku dat sy te maer is.

“Diana was bekommerd oor Kate se gewigsverlies sedert sy die baba gekry het en wil hê sy moet behoorlik begin eet,” het Simone aan die koerant Daily Star gesê. “Sy het Kate gewaarsku dat sy te maer is en vir haar gesê: ‘’n Bietjie van dit waarvan jy hou, is goed vir jou.’ Sy wil nie hê Kate moet onder druk voel nie en wil hê sy moet tevrede wees met haarself. Diana is oorstelp van vreugde oor George se geboorte. Sy sou ’n uitstekende ouma gewees het, baie beskermend.”

Simone (57), wat vyf jaar lank vriende was met Diana, sê die prinses het vir haar gesê Kate moet lig loop vir mode-ontwerpers. “Diana wil haar graag leer oor klere en om nie te val vir wat ander mense sê jy moet dra nie. Kate gaan baie rokke en skoene verniet kry. Diana sou vir haar gesê het: ‘Hulle gebruik jou, nes hulle my gebruik het.’”