’n Sydas wat aan prinses Diana behoort het, word binnekort opgeveil en sal na verwagting sowat R47 000 haal.

Diana het die vlootblou Escada-das met ’n patroon van goue olifante gedra toe sy in 1994 die St. Mary-hospitaal in Londen besoek het om haar pasgebore broerskind Louis Spencer, die burggraaf Althorp, te sien. Die prinses het die das daarna vir ’n vriend se dogter gegee om na ’n werkonderhoud te dra.

Die das is in sy oorspronklike goue geskenkpapier bewaar met ’n nota waarop staan: “Baie liefde, van Diana.” Daar is ook ’n foto by van Diana waar sy dit tydens die hospitaalbesoek dra. Dit word op 18 Junie saam met ander koninklike gedenkwaardighede deur die afslaers Reeman Dansie in Colchester opgeveil.

Valentynskaartjies wat Diana aan dieselfde gesin gestuur het, asook ’n houtteddiebeer wat twee hartjieballonne vashou, ’n foeliebedekte sjokoladehart en ’n foeliebedekte sjokolade-teddiebeer word ook opgeveil.

Diana het die kaartjies onderteken: “Baie liefde van Diana, William en Harry, X.”

Die kaartjies wat die prinses, wat in 1997 in Parys in ’n motorongeluk dood is, onderteken het, sal na verwagting vir tussen R4 700 en R7 800 elk opgeveil word.