Die biografiese rolprent Diana het Hasnat Khan en prinses Diana se romanse ’n onreg aangedoen.

Die hartchirurg sê die rolprent is gegrond op aannames en dis nie waar dat sy familie teen hul romanse gekant was nie. Die biografiese rolprent Diana, met Naomi Watts in die hoofrol, handel oor sy en prinses Diana se verhouding.

Hy het aan The Sun on Sunday gesê: “Albei my ouers, ouma en al my naby familie wat Diana ontmoet het, het baie van haar gehou. My ouers en ouma het nooit kapsie teen ons verhouding gemaak nie.

“Hulle het ons toegelaat om self ’n besluit te neem en dit duidelik gemaak hulle sou ons heelhartig ondersteun. Ons het hul seën gehad.

“Dit kom daarop neer dat die rolprent ons verhouding en my verhouding met my onmiddellike familie ’n onreg aangedoen het. Die materiaal in hierdie rolprent kom van mense wat mense ontmoet het wat ons skraps geken het. Dis alles op aannames gegrond.”

Hasnat (54) het onthul hy sukkel nog om die prinses se dood in ’n motorongeluk 16 jaar gelede te verwerk. Dit was net weke nadat sy hul verhouding van twee jaar beëindig het.

Hy het gesê: “Dit was vir my moeilik om Diana se dood te aanvaar of daaroor te praat.

“Ná haar dood was dit moeilik, baie moeilik. Ons almal het ons eie trauma en gaan aan met ons lewe. Maar wanneer dit jou jaar ná jaar in die gesig staar, is dit baie moeilik.”