Ondersteuners glo die soldaat wat beweer die SAS was by prinses Diana se dood betrokke praat die waarheid.

Die soldaat se bewerings het tot ’n nuwe ondersoek na haar dood gelei.

Die weermagslid, wat net as Soldier N geïdentifiseer is, beweer die SAS was by Diana se dood betrokke en dat dit “toegesmeer” is, maar hy is sedertdien as onbetroubaar en ’n mens met min geloofwaardigheid bestempel.

’n Ondersteuner is nou bang die soldaat se beweringe sal op dowe ore val, ten spyte daarvan dat hy ’n sleutelgetuie is in die hofsaak van ’n mede-SAS-lid, Danny Nightingale.

’n Bron het aan die koerant Daily Express gesê: “Hoe kan hierdie man een dag ’n eerlike getuie wees en die volgende dag ’n Walter Mitty-fantaseerder (Walter is ’n storieboekkarakter met ’n vrugbare verbeelding)?

“Hulle sal sê Soldier N praat nonsens. Dit sal die noodsaak verwyder om die beweringe behoorlik te ondersoek. Die polisie sal dit probeer begrawe, in die asblik gooi en sê ‘geen verdere optrede nodig’.”

Scotland Yard sê dit evalueer inligting dat die SAS moontlik by die dood van prinses Diana en haar kêrel Dodi Fayed in Augustus 1997 betrokke was nadat hulle ’n brief van die ouers van Soldier N se vervreemde vrou gekry het.

In die brief word beweer: “Hy het ook aan haar gesê dit was die SAS wat prinses Diana se dood gereël het en dis verbloem.”