Polisiebeamptes het prins Charles van Brittanje gekontak oor ’n nuwe ondersoek na die dood van sy eksvrou, prinses Diana.

Die metropolitaanse polisiediens ondersoek glo die opspraakwekkende beweringe dat die Britse Spesiale Lugmag (SAS) betrokke was by die dood van Diana en haar destydse minnaar, Dodi Fayed, in 1997. Die Daily Express berig haar eksman, Charles (64), is nou daaroor gekontak.

Daar word gereken dat Scotland Yard met ’n volledige ondersoek kan begin nadat hulle Charles, Dodi se pa, Mohamed Al-Fayed (84), en regter Scott Baker, wat in 2007 en 2008 die ondersoek na Diana se dood hanteer het, genader het.

Die nuwe ondersoek kom nadat die polisie ’n brief ontvang het van die ouers van die vervreemde vrou van ’n SAS-lid, wat net as Soldier N bekend is. In die brief word beweer hy het aan hul dogter gesê dat die SAS by Diana se dood betrokke was en dat dit toegesmeer is.

Mohamed het nog altyd volgehou dat Diana en sy seun vermoor is, en nou sê bronne Dodi se familie is bekommerd dat die nuwe beweringe ook “onder die mat gevee” sal word.

Die familie wil glo ’n volledige ondersoek na die beweringe en die sterftes hê.