’n Voormalige lyfwag van prinses Diana dink die nuwe ondersoek na haar dood in 1997 is ’n publisiteitsfoefie.

Ken Wharfe, ’n voormalige lyfwag van Diana, het veral uitgevaar teen beweringe dat die Britse weermag betrokke was by haar dood.

Hy het aan die koerant The Telegraph gesê: “Hoekom het dit so lank geneem voor hierdie nuwe inligting bekendgemaak is? Dit lyk vir my so vlak. Ek dink dis ’n bietjie van ’n publisiteitsfoefie. Om watter rede is ek nie seker nie, maar in die afwesigheid van enige ware bewyse is ek seker dit sal weggaan.”

Die brief wat tot die ondersoek gelei het, is geskryf deur die ouers van die vervreemde vrou van ’n voormalige SAS-lid (die spesiale lugmag). Dit het na vore gekom tydens ’n hofsaak van die SAS-skerpskutter Danny Nightingale, wat aan onwettige wapenbesit skuldig bevind is.

Volgens die brief het die SAS-lid, wat net as “Soldier N” geïdentifiseer is, aan sy vrou gesê SAS “was agter Diana se dood” en dat hul betrokkenheid “verdoesel is”.

Scotland Yard het gesê die nuwe inligting word ondersoek en dat hulle besig is om die “relevansie en geloofwaardigheid” daarvan te bepaal.

Die Met-polisie sê egter die nuwe ondersoek is nie ’n “herondersoek” na die dood van Diana en haar minnaar, Dodi Fayed, nie.

Die paartjie het op 31 Augustus 1997 in ’n motorongeluk in Parys, Frankryk, gesterf.