Toe Diaan Lawrenson onlangs ná die Desember-vakansie terugkeer na 7de Laan se stel, het sy haar boeglam geskrik vir die rokkie wat iemand in haar kleedkamer opgehang het. Dit was klein, sommer piepklein. Die blondekopaktrise sou dit so nimmer as te nooit oor haar boepie kon kry nie.

‘‘Ek het na die rokkie gekyk en gedink: Um, nee . . . daai dingetjie gaan my beslis nie meer pas nie,’’ lag die aktrise wat die rol van die loskop Paula in die Laan vertolk.

En nee, haar middel het nie skielik verdubbel omdat sy in die feestyd te geil aan koekstruif en braaiboud weggelê het nie. Diaan vryf oor haar boepie en haar oë rek verwonderd. Die eens skraal aktrise wat deesdae ’n nommer 34 pleks van ’n 32 dra, is al vyf maande swanger. Dis ’n dogtertjie en sy word in Junie gebore.

‘‘Ons noem haar solank Schnookie,’’ sê sy liefderyk vir haar verloofde, die akteur Jody Abrahams, vroeër ook in die Laan in die rol van Donovan.

‘‘Toe ons Schnookie vir die eerste keer op die skanderingskerm sien, was ek en Diaan se ma so aangedaan, ons het albei onbeheers begin huil,’’ bieg Donovan.

Die twee sou in Maart trou nadat hulle in Junie verlede jaar verloof geraak het, maar hulle het besluit om die troue tot ná hul eersteling se koms uit te stel. “Ons beplan steeds om te trou, maar ek wil darem graag op my troudag in ’n trourok pas!’’ verduidelik Diaan.

Jody het die laaste tyd in die Kaap gewoon omdat hy hier in die teateropvoering Second Time Around gespeel het.

Hulle het verlede jaar drie weke lank in Europa vakansie gaan hou, en hulle het besef daar is dalk ’n kleinding op pad toe hulle terugkeer huis toe.

Die vervaardigers van 7de Laan was effe verslae toe Diaan hulle vertel Paula gaan binnekort met ’n boepie spog. “Maar almal is vreeslik ondersteunend en die vervaardigers sê ek kan ná die baba se koms so lank as wat ek wil by die huis bly.’’

Lees die volledige artikel en sien meer foto's in Huisgenoot van 11 Februarie.