’n Nuwe fliek oor prinses Diana is vol foute, sê die ander mens oor wie die fliek gaan.

Die fliek Diana gaan oor die oorlede prinses van Wallis se verhouding met dr. Hasnat Khan (nou 54), maar hy voel dit vertel nie die verhaal ten volle en korrek nie.

Hy het aan die Mail on Sunday gesê: “Ek kan nie sien dat die rolprent goed gaan vaar nie. Dis gegrond op skinderstories en Diana se vriende wat oor ’n verhouding praat waarvan hulle min geweet het, en van my familielede wat ook nie veel daarvan geweet het nie. Dis heeltemal op veronderstelling en skinderstories gegrond.”

Die fliek  gaan oor die twee jaar voor Diana in 1997 dood is. Naomi Watts (44) vertolk die rol van die prinses, en Naveen Andrews (44) beeld Hasnat uit.

Die fliek is geregisseer deur Oliver Hirschbiegel (55).

Hasnat sê selfs ’n enkele stilfoto uit die rolprent was genoeg om hom te oortuig hy word verkeerd voorgestel. Dit het hom ook laat besluit hy gaan nie die fliek kyk nie.

Hy het bygevoeg: “Jy kan uit daardie foto aflei dat daar net veronderstel is hoe ons teenoor mekaar sou optree, en hulle is heeltemal verkeerd.

“Daar was geen hiërargie in ons verhouding nie. Sy was nie ’n prinses nie en ek was nie ’n dokter nie. Ons was vriende, en het mekaar soos gewone mense as vriende hanteer.”

Hasnat en Diana het twee jaar lank ’n verhouding gehad en dit glo oorweeg om te trou. Nadat hulle uitgemaak het, het Diana en Dodi Fayed ’n verhouding aangeknoop. Hulle is kort daarna saam in ’n motorongeluk in Parys dood nadat hulle van steelfotograwe weggejaag het.