Foto: THE BIGGER PICTURE/REUTERS

Die Britse sakeman Shrien Dewani sal aan Suid-Afrika uitgelewer word op aanklagte dat hy die moord op sy vrou, Anni, georkestreer het, berig SkyNews.

Dewani se 28-jarige vrou Anni is geskiet toe die taxi waarin die paartjie in November 2010 gery het in Guguletu gekaap is.

Die British Press Association het vroeër berig die 33-jarige Dewani word by ‘n hospitaal in Bristol behandel vir depressie en post-traumatiese stres.

Die Westminster-landdroshof het verlede maand gehoor dat sy toestand “merkwaardig verbeter” het.

Xolile Mngeni is in Desember tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord. Twee ander plaaslike mans wat in aanhouding is oor die voorval, het gesê Shrien het hulle betaal om Anni dood te skiet.

Dewani het 14 dae om teen die beslissing te appelleer.

- Nuus24