Justisiewoordvoerder Mthunzi Mhaga het Dinsdag gesê die departement onthul die koste van R2 905 574,31 om Shrien Dewani van die Bristol-lughawe in die Verenigde Koningkryk na Kaapstad se internasionale lughawe te bring “in die belang van verantwoordelikheid en deursigtigheid”.

Shrien het vroeër die oggend met ’n huurvliegtuig in Kaapstad aangekom, vergesel van ’n Suid-Afrikaanse dokter, ’n verpleegster, lede van die SAPD en Interpol.

Die departement het om talle redes besluit om ’n huurvlug te gebruik.

“Ons het dit in ag geneem dat daar onweerlegbare getuienis in die uitleweringsverhoor was dat hy selfdoodneigings toon; die Suid-Afrikaanse regering wou nie ’n kans waag nie,” het hy gesê.

Mthunzi het verduidelik Shrien se besonderse mediese toestand moet gemonitor word, maar die omstandighede op ’n kommersiële vlug kon sy gesondheid in gedrang bring. Dit sou dan ’n nadelige uitwerking kon hê op die poging om hom te help herstel.

Mthunzi het ook gesê hulle wou Shrien en sy span se veiligheid help verseker.

Hy het gesê dit sou moeilik gewees het op ’n kommersiële vlug tussen al die ander passasiers, veral ook omdat Shrien al goed bekend is vanweë al die mediablootstelling die afgelope drie en ’n half jaar.

Brittanje het die beskuldigde Suid-Afrika uitgelewer sodat hy kan teregstaan op aanklagte weens die moord op sy vrou, Anni.

Shrien beweer gewapende mans het hom en sy bruid in November 2010 gekaap terwyl hulle in ’n taxi deur die Kaapstadse voorstad Guguletu gery het.

Die egpaar was in Suid-Afrika vir hul wittebrood.

Shrien is ongedeerd laat gaan terwyl sy vrou se lyk die volgende dag in die verlate motor gekry is. Sy is doodgeskiet.

Xolile Mngeni is aan die moord skuldig bevind en lewenslange tronkstraf opgelê. Die aanklaers gaan aanvoer Shrien het hom gehuur om Anni om die lewe te bring.

Nog twee vermeende medepligtiges dien ook reeds tronkstraf uit weens dié misdaad. Shrien ontken enige aandeel aan die misdaad.

Shrien het Dinsdag vlugtig in die hooggeregshof in Kaapstad voorgekom. Sy verhoor is uitgestel tot 12 Mei vanjaar.

Hy sal na verwagting aangekla word weens sameswering tot moord en regsverydeling.

- Sapa