Die 33-jarige Brit, wat beskuldig word van die moord op sy vrou, Anni, op hul wittebrood in Kaapstad in November 2010, is blykbaar op pad na die hooggeregshof in die middestad.

Internasionale en plaaslike joernaliste drom al van vanoggend vroeg saam in die omgewing van Keeromstraat.

Die staat kla Shrien aan weens moord, sameswering tot moord en regsverydeling. Hy word omstreeks halftwaalf vanoggend by die hof verwag.

Dewani het die land op ’n huurvlug binnegekom, het adv. Hishaam Mohamed, Wes-Kaapse hoof van die departement van justisie, vanoggend aan joernaliste bevestig.

Hy sê die departement het vir die vlug betaal sodat reg en geregtigheid kan geskied.

Op ’n perskonferensie gister het adv. Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die departement, bekendgemaak die media sal nie toegelaat word om foto’s van Shrien binne die hof te neem nie.

Regter John Hlophe, die Wes-Kaapse regter-president, het die bevel gegee, maar Mthunzi het gesê mediamense mag aansoek doen om foto’s te neem en dat die regter sulke versoeke sal oorweeg.

Regter Hlophe sal vandag se hofverrigtinge lei en waarskynlik ’n besluit in die verband neem.

Buiten die afgemerkte sitplekke vir lede van die media, is ’n bank aan die linkerkant van die hof ook vir die media afgebaken.

Mthunzi het ook gister aangedui dat Shrien waarskynlik in die Valkenburg psigiatriese hospitaal aangehou sal word wanneer hy nie in die hof is nie. Maar ook dié besluit sal waarskynlik vandag deur regter Hlophe aangekondig word.

– Almari Wessels