“Hy is met ’n huurvlug van die Bristol-lughawe in die Verenigde Koninkryk na Suid-Afrika gebring. Die departement van justisie het dit gereël,” het ’n woordvoerder, Mthunzi Mhaga, in ’n verklaring gesê.

Een van die redes waarom hy met ’n huurvlug hierheen gebring is, is omdat Shrien al selfdoodneigings getoon het, het Mthunzi gesê.

“Ons het dit in ag geneem dat daar tydens (die) uitleweringsverhoor onbetwisbare bewyse was dat hy selfmoordneigings getoon het, en die Suid-Afrikaanse regering wou nie ’n kans waag nie.

“Sy mediese toestand moet gemonitor word en ’n kommersiële vlug sou dié monitering bemoeilik het; dit kon nadelig ingewerk het op die mediese ondersoek wat hy moet ondergaan in ’n poging om hom te help herstel.”

Mthunzi het gesê die departement moes ook die veiligheid verseker van Shiren en die span wat saam met hom gekom het, onder wie dokters, verpleegsters en polisiebeamptes.

“Dit sou moeilik gewees het op ’n kommersiële vlug met baie passasiers. Dit kon hul veiligheid in die gedrang gebring het omdat hy al wydbekend is,” het hy gesê.

“Dit was dus van die uiterste belang dat sy terugkeer na die land sonder risiko verloop sodat hy eindelik ongestoord sy hofverskyning kan maak.”

- Sapa