[post-slider]

Lara de Chazal se gesondheidswenke:

Watter dieet volg jy?

Ek volg nie op die oomblik ’n dieet nie, maar hou heeltyd ’n ogie op wat ek eet – ek sit nogal maklik gewig aan. Ek is mal oor gesonde, natuurlike, onverwerkte kosse, so my etes bevat baie blaargroente, groente, gehalteproteïen en egte vette. My liggaam reageer beter op ’n lae-koolhidraat-leefstyl, so ek is baie kieskeurig oor die hoeveelheid en die gehalte van die koolhidrate wat ek eet. Ek eet ook min vrugte.

Wat is jou gunsteling-gesondheidsgereg? Kan jy die resep met ons deel?

Die term “gesond” is subjektief en hang af van die dieet wat jy volg, so hier is eerder ’n idee vir ’n vinnige, gesonde ontbyt:

Gesonde bessie-proteïen-smoothie

Die absoluut heerlike smoothie bevat baie proteïen en min koolhidrate en is supervullend danksy die veselinhoud. Boonop verhoog dit nie jou bloedsuikervlakke nie. Die kleur is ook so mooi, en dit is vol natuurlike antioksidante.

  • 1 k water
  • ½ k gevriesde of vars bloubessies
  • 1 skeppie ertproteïen (“pea protein”) of weiproteïenisolaat (“whey protein isolate") (Belangrik: gebruik ’n proteïenpoeier wat nie kunsmatige versoetingsmiddels, vullers en verdikkingsmiddels bevat nie)
  • 1 e amandelneutbotter of 8 amandels
  • 1 e pynappelvesel
  • versoetingsmiddels vir smaak: Stevia of xilitol
  • kaneel (opsioneel)

Plaas al die bestanddele in ’n menger en met tot glad en romerig, skink en geniet.

Watter oefenplan volg jy?

Ek gaan deur fases. Ek hou van boks en gewigsoefening, maar ek moet ’n instrukteur kry om my te druk; ek is nutteloos op my eie. Ek woon soms verfermingsklasse by my gim by en ek hou van strek en joga.

Wat is die beste gesondheidsraad wat jy al ontvang het?

Ons moet oplet hoe wat ons eet ons laat voel. Ek het eers gedink dit is vreemd, maar ek het na my lyf begin luister en ál meer bewus geraak van hoe sekere kosse my energiek laat voel terwyl ander my moeg, omgekrap en opgeblaas laat voel. Ons moet almal na ons liggaam luister!

Wat is die grootste oorsaak van ’n ongesonde leefstyl?

’n Tekort aan kennis en begrip van wat gesond wees behels, die koste van ’n gesonde dieet en laastens hoe min tyd daar in ons besige lewens is om die regte kos te maak en oefening te doen.

Enige raad vir mense wat gesond wil leef, maar nie weet waar om te begin nie?

  • Maak klein veranderings wat uitvoerbaar en oor die lang termyn volhoubaar is, soos:
  • Neem minder suiker in. Dit geld nie net vir die suiker in jou tee en koffie nie. Kosse soos brood, pastei en pasta proe souterig, maar word in jou bloed in suiker omgeskakel.
  • Lees kos-etikette. As jy van die bestanddele nie kan uitspreek nie, is daar ’n goeie kans dat dit preserveermiddels of kunsmatige versoeters is wat nie goed is vir jou nie.
  • Drink water – en baie daarvan. Sny ander drinkgoed uit jou dieet en maak seker jy drink elke dag 2 L water.
  • Oefen. Beweeg jou liggaam soveel moontlik en maak dit deel van jou roetine.
  • Maak tyd om gesonde geregte te berei. Sondag is ’n goeie dag om jou weeklikse proteïen en groente reg te kry; dan hoef jy nie gedurende die week bekommerd te wees oor lank in die kombuis staan en kos maak nie.

Wat is die grootste gesondheidsuitdaging wat jy al moes oorkom?

Hipotiroïdisme (’n onderaktiewe skildklier), asook ’n binge-eetsteuring. Danksy die regte medikasie en voeding het ek albei suksesvol oorkom.

Het jy enige guilty pleasures?

Absoluut! Gee my ’n kaas- of ’n wortelkoek en ek is sielsgelukkig.

Meer oor Wian:

Watter eetplan volg jy?

Die intermittent fasting-program. Ek eet met ander woorde binne agt uur al my kos vir die dag. Dit sorg vir uitstekende gewigsverlies en werk veroudering doeltreffend teen.

Watter gesonde gereg is jou gunsteling?

Geroosterde Noorweegse salm met ’n pikantrissiemengelslaai.

Watter oefeninge doen jy?

Hoë-intensiteit-interval-oefeninge, soos om voluit te hardloop, om my kardiovaskulêre kapasiteit te verhoog.

Wat is die beste gesondheidsraad wat jy al ontvang het?

Drink genoeg water.

Wat is volgens jou die hoofredes vir ’n ongesonde leefstyl?

Die advertensie- en reklamebedryf! Dit kan ook die beste gesondheidspogings in die wiele ry as jy nie jou week vooruit beplan nie.

Het jy enige wenke vir mense wat gesond wil leef, maar onseker is hoe om te begin?

Maak seker jy het ’n tweede doel voor jy met jou eerste doel (jou nuwe leefstylprogram) begin. Daar moet ’n beloning wees nadat jy jou leefstyl suksesvol aangepas het. Dis goed en wel om net gewig te wil verloor of gesonder te wil leef, maar wanneer jy op die punt is om tou op te gooi, moet daar iets wees wat jou aanspoor om deur te druk met jou nuwe leefstyl.

Wat is eenvoudige afskopwenk?

Moet nooit op ’n leë maag inkopies doen nie.

Jou leefstyl is baie gesond, maar het jy enige guilty pleasures?

Rooiwyn.

’n Nuwe episode van Deur Dik en Dun word elke Dinsdag om 16:00 op VIA uitgesaai.