Hulle het in Januarie ’n pragtige dogtertjie verwelkom en haar Divya Ashlee genoem, na Cindy se broer wat in 2013 op sy troudag in ’n motorongeluk gesterf het.

Dhenesh (40) en Cindy (35), wat ook twee seuns – Devesh (10) and Dhevan (4) – het, was oorstelp oor hul eerste dogter.

“Sy was mollig, borrelend. Sy het so gesond gelyk,” onthou Dhenesh.

Maar twee weke later het die Singhs besef iets is verkeerd met hul dogtertjie. Divya se vel het ’n gelerige skynsel gehad, sy het haar melk opgegooi en sy het vinnig gewig verloor.

’n Uitmergelende tyd van doktersbesoeke en toetse het gevolg. ’n Biopsie van die lewer het uiteindelik die hartverskeurende diagnose bevestig: Divya het biliêre atresie, ’n seldsame siekte waar die galbuis wat die gal van die lewer na die dunderm dreineer, vernou of heeltemal geblokkeer is.

Cindy en Dhenesh se babadogtertjie se lewer sal uiteindelik ophou werk. Haar siekte is dodelik – tensy sy ’n nuwe lewer kry.

[caption id="attachment_137150" align="aligncenter" width="600"]Divya kort ná haar geboorte. FOTO: Verskaf. Divya kort ná haar geboorte. FOTO: Verskaf.[/caption]

Met die hulp van die oorplantingsafdeling van die mediese sentrum Donald Gordon by Wits is Divya se naam op die nasionale oorplantingslys geplaas.

[caption id="attachment_137149" align="aligncenter" width="600"]Cindy en Dhenesh met al hul kinders, Devesh, Dhevan and Divya. FOTO: Verskaf. Cindy en Dhenesh met al hul kinders, Devesh, Dhevan and Divya. FOTO: Verskaf.[/caption]

Maar daar is duisende name op dié lys en dit is ongewoon dat mense sal toestem om hul geliefdes se organe ná hul dood te skenk, wat nog te sê om dit vir ’n oorplanting beskikbaar te stel.

Divya is intussen gereeld in en uit die hospitaal en moet deur ’n pypie in haar neus gevoed word. Cindy, ’n menslikehulpbronnepraktisyn, moes haar werk los om Divya heeltyds te versorg.

“Sy leef op geleende tyd,” verduidelik Dhenesh, die spanning duidelik in sy stem. “Sy verswak elke dag.”

[caption id="attachment_137152" align="aligncenter" width="600"]Divya het goeie en slegte dae – maar haar toestand versleg algaande. FOTO: Verskaf Divya het goeie en slegte dae – maar haar toestand versleg algaande. FOTO: Verskaf[/caption]

Dhenesh het dus besluit om in te tree.

“Ek gaan nie net rondsit en wag dat my dogter haar oë voor my sluit nie.”

Daar is nog ’n opsie vir Divya – ’n lewende skenker.

Leweroorplantings kan ook uitgevoer word deur ’n stukkie van ’n lewende skenker se lewer te gebruik. Die prosedure word ’n lewerweefseloorplanting genoem. Chirurge sal ’n stukkie lewer in Divya se buik kan plaas, waar dit binne agt weke tot ’n normale grootte behoort te groei.

Dit sal nie die eerste keer dat dié operasie in Suid-Afrika uitgevoer word nie. In 2013 het Connor Mollison (toe nege maande oud) die jongste Suid-Afrikaner geword wat ’n lewer kry waarby ’n lewende skenker – sy ma – betrokke was. Die babaseun van Durban het ook aan biliêre atresie gely.

[caption id="attachment_137144" align="aligncenter" width="600"]Huisgenoot, 15 Augustus 2013. Huisgenoot, 15 Augustus 2013.[/caption]

Annabel Mollison (toe 37) het ’n stuk van haar lewer so groot soos ’n man se hand aan haar seun geskenk.

Ná die operasie het Annabel, self ’n dokter, aan Huisgenoot gesê Connor het die stuk van haar lewer gekry op dieselfde dag dat dit verwyder is.

“Dit was nie baie seer nie, want ek was vier dae lank onder sterk verdowing in die hoësorgeenheid. Ek was in hierdie tyd baie bekommerd oor Connor, maar almal het my verseker dit gaan goed met hom.

“Ek het ’n lang merk onder my ribbes, van my een sy tot by die ander een, net soos Connor. Daar is nog pyn, maar ek is net bly ek kon iets doen om ons kind te help.

Dhenesh en Cindy sou die operasie ondergaan sonder om twee daaroor keer te dink, maar nie een van hulle het dieselfde bloedgroep as Divya nie.

In Divya se geval moet die skenker se bloedgroep O-positief of -negatief wees, hy/sy moet tussen 18 en 50 jaar oud wees, ’n LMI (liggaamsmassa-indeks) van 30 of laer hê, gesond wees en aan geen siektes ly nie.

Die gesin het ’n Facebook-bladsy opgestel om die nuus te versprei in die hoop dat ’n moontlike skenker vir Divya na vore sal kom.

As die skenker aan al die bogenoemde kriteria voldoen, verduidelik Dhenesh, sal die skenker vir verdere bloedtoetse, skanderings en doktersafsprake moet gaan.

“Dit kan binne twee dae gedoen word,” sê hy. “Die stuk van die lewer wat geskenk is, sal binne twee tot drie weke teruggroei en die persoon kan ’n gesonde lewe lei.”

Die operasie

Stap 1

Die laterale linkerkant (330 g) van die skenker se lewer word verwyder. Die lewer word deur ’n poort-aar, lewerslagaar, lewer-aar en lewergalbuis met die res van die liggaam verbind.

Elk van die bogenoemde vate verdeel in ’n regter- en ’n linkervat net voor hulle met die lewer verbind. Die vate aan die linkerkant word saam met die stuk van die skenker se lewer verwyder sodat hulle later aan dié in die ontvanger se liggaam geheg kan word.

Die lewer regenereer en dié van die skenker sal binne vier tot ses weke teruggroei.

Stap 2

’n Spesiale, bederfwerende vloeistof word deur die vate van die lewer gespoel en dit word teen 4 °C bewaar totdat die ontvanger gereed is om dit te ontvang.

Die lewer kan tot 12 ure lank bewaar word omdat die orgaan se interne metabolisme sodanig vertraag word dat dit geen suurstof of voedingstowwe nodig het nie, het professor Jean Botha van die Wits-Universiteit, leier van die span chirurge wat die operasie op Connor gedoen het, ná die operasie aan Huisgenoot verduidelik.

Stap 3

Die poort-aar, lewerslagaar, lewer-aar en lewergalbuis van die ontvanger word dan aan die skenker se lewer vasgewerk. Daarna word die lewer helderpienk.

Volgens die mediese sentrum David Gordon is ’n leweroorplanting waarby ’n lewende skenker betrokke is, nie bedoel om konvensionele prosedures ten opsigte van orgaanoorplanting te vervang nie, “maar om te dien as ’n alternatief vir mense wat dit nie kan bekostig om op die waglys geplaas te word nie.” “Die sukses van hierdie operasies sal hopelik mense op dieselfde manier motiveer om dié opsie te oorweeg, aangesien dit die druk op die waglys vir orgaanskenking aansienlik gaan verlig.” As jy met die Singhs in aanraking wil kom om te help, gaan na die Facebook-bladsy wat hulle vir Divya opgestel het. Save