Teri Hatcher het onthul sy sal dit oorweeg om aan ’n Desperate Housewives-rolprent te werk as die draaiboek na haar sin is.

Die TV-program het verlede jaar ná agt seisoene geëindig. En al erken Teri (48) dis onwaarskynlik dat die storie vir die silwerdoek aangepas sal word, sal sy die kans aangryp om weer die rol van Susan Delfino te vertolk.

Sy het aan Extra gesê: “Ek is so lief vir die aanhangers en dit lyk nie of hulle klaar is met die karakters nie. Ek dink dit sal vir hulle wonderlik wees. As die draaiboek in my skoot val, sal ek dit lees met die hoop dat dit sal uitwerk. Maar ek dink nie regtig dit sal gebeur nie.”

Marc Cherry (51), wat die storie geskep het, voel al Desperate Housewives se storielyne is reeds uitgeput – anders as wat met Sex and the City die geval was.

Hy het verduidelik: “Net iets soos 69 episodes is van Sex and the City gemaak. Die voordeel was dat dit nie vir hulle nodig was om tot in die dieptes van daardie karakters te delf nie. Ná agt jaar dink ek ons is klaar. Ek is gelukkig daarmee. Dis nie ’n slegte ding nie. Ek voel tevrede met waar ons is. Ek gaan nie die meisies Doebai toe stuur nie. Dis al wat ek sê.”