Desiré maak dié groot skuif om by haar man, wat reeds 'n paar maande gelede van die Goudstad na die Moederstad verhuis het, aan te sluit. Hy is tans die hoof van beligting en tegnies by Suidooster wat in Kaapstad verfilm word.

Die afgelope tyd moes Desiré en haar man, Chris, gereeld op-en-af vlieg tussen Kaapstad en Johannesburg, maar daardie dae is nou verby.

"Dit was nie maklik nie, maar ons het dit laat werk. Ek sien uit daarna dat ons net as gesin bymekaar kan wees," het die aktrise aan Netwerk24 gesê.

Gister was haar laaste dag op die Binnelanders-stel. Sy het bygevoeg dat sy veral Johannesburg en sy mense gaan mis.

Vir eers gaan Desiré tyd inruim om haar voete in Kaapstad te vind en die karakter wat sy so lank vertolk het, af te skud. Volgens Wilmer Müller, publisiteitshoof by Suidooster Films, gaan Desiré 1 Februarie begin.

"Suidooster Films is geweldig opgewonde om Desiré te verwelkom by ons sepie-familie. Haar ervaring as sepie-aktrise is van onskatbare waarde vir ons en soos haar huidige karakter in Binnelanders, behoort haar nuwe rol groot aanklank by Suidooster-kykers te vind," sê Wilmer.

"Haar nuwe karakter behoort in middel Maart 2016 haar verskyning op die kassie in Suidooster te maak."