Die 13-jarige seuntjie van Krugersdorp wat Woensdagoggend dood is nadat hy by ’n bewegende trein uitgeval het, gaan langs die sussie wat hy nooit geken het nie begrawe word.

seuntrein

Klein JC van Loggerenberg se sussie is jare gelede as ’n baba dood voordat hy gebore is. Sy is destyds in die Sterkfontein-begraafplaas in Krugersdorp begrawe.

Daar word Maandagoggend om 10:00 ’n roudiens vir JC by die West Rand Bikers Church in Krugersdorp gehou. Sy liggaam sal veras word en sy oorskot sal dan langs sy sussie se graf begrawe word.

Hulle ma, Annelize van Loggerenberg, was Donderdagoggend nog te hartgebroke om te praat oor die tweede keer wat sy ’n kind aan die dood moet afstaan.

JC is dood nadat hy Woensdagoggend net voor agtuur naby die kruising van Main Reef- en Chamdor-weg in Krugerdsorp by ’n bewegende trein uitgeval het. Hy was saam met ’n maat op pad skool toe om hul rapporte met hul skooluitslae by Roodepark-skool in Roodepoort te gaan haal.

Die twee seuns is van mekaar geskei nadat hulle by die Luipaardsvlei-treinstasie op die trein geklim het. By die volgende stasie, Witpoortjie, het ’n passasier vir JC se maat vertel hy het gesien hoe JC by die trein uitval. Die maat het hulp by spoorwegbeamptes ontbied en hulle na Annelize se huis in Mindalore geneem.

Toe Annelize saam met die maat en beampte by die ongelukstoneel aankom, het haar seun nog gelewe. “Hy was yskoud, toe trek ek my baadjie uit en gooi dit oor hom. Hy het gesê ‘Mamma’, maar ek het hom stilgemaak en gevra om sy krag te spaar omdat die ambulans al op pad was,” het sy vroeër in trane aan Huisgenoot vertel.

Toe nooddienswerkers kort daarna op die toneel opdaag, was JC reeds weg.

Annelize is steeds erg getraumatiseer deur die grudood van haar seun en het nie kans gesien om sy lyk Donderdagoggend by die lykshuis in Roodepoort te gaan uitken nie. “Sy lyfie was so erg geskend van die beserings van die val, ek kon nie weer daarna kyk nie. Hy het regtig baie seergekry.”

Sy vertel sy wil hom eerder “sonder snye en kneusplekke” onthou as die “oulike seun” vir wie sy so lief was.

Annelize sê daar is gerugte dat JC moontlik uit die trein geval het omdat een van die trein se deure na bewering oop was. “Ons kan dit nie verstaan nie, maar ons gaan dit nie hier laat nie,” sê sy. “My kind het met sy lewe geboet en nou moet ek elke dag daarmee saamlewe.”

Sers. Tshepiso Mashale van die Krugersdorp-polisie het vroeëer bevestig dat JC by die trein uitegval het. “’n Geregtelike doodsondersoek is by die Krugersdorp-polisie geopen nadat ’n lyk van ’n skoolseun op die treinspoor aangetref is,” het Mashale bevestig.

Lilian Mofokeng, woordvoerder van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), het Donderdagoggend by navraag aangedui sy sal so gou moontlik op die aangeleentheid kommentaar lewer en reageer op die bewering dat die trein se deure moontlik oop was.