Hy onthou alles tot in die fynste besonderheid.

Só vertel Niek Fouché van sy seun, HP (13), wat drie weke gelede nog om sy lewe geveg het ná die tragiese ongeluk op pad na hul plaashuis buite Hennenman in die Vrystaat.

HP is net meer as ’n week gelede uit die Pelonomi-staatshospitaal in Bloemfontein ontslaan en sterk tans by die huis aan.

[caption id="attachment_144485" align="alignnone" width="180"]HP Fouche en sy sussie, Anne-Marie le op die bed by hul ouerhuis in Hennenman in die Vrystaat HP Fouche en sy sussie, Anne-Marie le op die bed by hul ouerhuis in Hennenman in die Vrystaat[/caption]

“Toe die Golf ons stamp, het die bakkie in die rondte getol,” vertel Niek.

“HP onthou nog hoe hy met die vlaggie in die wind gespeel het en hoe die vlaggie die volgende oomblik in sy gesig was."

In die oomblik en weens die momentum van die bakkie wat om en om tol, is HP en sy sussie, Anne-Marie (11), uit die bakkie geskiet.

“Die bakkie was in trurat toe dit van die pad af en deur ’n dip gaan. HP het toe skuins onder die bakkie beland en die voorwiel is oor hom," vertel Niek verder.

Anne-Marie het oor die teerpad gerol. "Jy kon sien die Hand van Bo was naby gewees, want dit was enkele millimeters of daardie Golf het oor haar gery."

Die elfjarige het gelukkig niks gebreek nie, maar het omtrent nie ’n vel aan haar lyf oorgehad nie. Dit gaan al baie beter met haar en sy is “met rofies en kolletjies” terug skool toe.

HP was nie ewe gelukkig nie. Hy het sy ribbebene, sy sleutelbeen en sy skouer gebreek. Van sy nek- en rugwerwels het ook geskuif.

“Toe ons by die huis kom, was die aanpassing erg want ons moes alles weer vir HP doen. Hy kan steeds baie dinge nie vir homself doen nie en lê net die meeste van die tyd. Gelukkig het hy weer begin loop, so hy kan self by die badkamer en terug kom.”

Buiten dat Niek en sy vrou, Catrien, langs hul seun se bed gewaak het terwyl hy in die waakeenheid was, moes hulle nog ook al die kritiek verwerk.

Veral Catrien, wat agter die stuur was, “vat dit baie swaar”, sê Niek.

“Daardie prentjie van die bloed wat by sy mond uitloop en hy wat smag na asem - dis iets wat wat by jou bly.”

Die familie was al by sielkundiges, maar Niek, wat self ’n paar ribbebene in die ongeluk gebreek het, weet nie of dit gaan help nie. Catrien het net hier en daar ’n paar bloukolle en skrape gekry.

“Die kritiek was verskriklik. Almal het iets te sê gehad. Ons wou later net vir mense sê om eerder te bid as om stories aan te dra.

“Al die beskuldigings het die seerste gemaak.”

Tog sê Niek is daar baie mense wat hulle ondersteun en vir hulle bid. Die Checkers Hyper in Bloemfontein het ook vir die kinders geskenkbewyse gegee en toiletware “en uit hul pad gegaan het om ons te help”.

“Dit tel vir ons baie,” sê Niek.