Dit was die huis wat hy vir hom en Karlien van Jaarsveld gekoop het, sê die oud-Springbok Derick Hougaard. Nou is daar net te veel herinneringe in dié huis in die Olympus Country Estate in Pretoria.

“Ek het die huis vir my en Karlien gekoop. Saam sou ons super gewees het, maar sy het besluit om ’n ander weg te loop,” sê Derick. “Die is maar ’n ding van sny en aanbeweeg. Die herinneringe sal altyd daar wees, maar in die huis is dit altyd vars.” Derick het hom Sondagaand tot sosiale media gewend om ’n huurder vir dié huis te probeer kry: “Huis te huur Olympus Country Estate. First come first serve . Mooi aand. Liefde D (Sic),” het Derick op Twitter geskryf.

Die huis, waar hy, Karlien en hul tweeling, Eliah en Daniël, gelukkige tye gedeel het, is nou net te groot vir hom.

Hy sê hy het niks meer nodig as “’n bed en ’n dak oor my kop” nie. Hy het meer as genoeg vriende met groot plekke sou hy wou onthaal.

Lees ook: Drie hoera’s vir Bobby en sy Annatjie se nuwe pienkvoet! Raai wat is hul pasgebore dogtertjie se naam?

Derick het in Januarie 2016 aan Rapport vertel hy sukkel om sy hemelhoë onderhoudsgeld vir sy tweejarige tweeling by te bring.

Benewens die salarisse wat hy van SuperSport as kommentator en van die Blou Bulle as skopafrigter kry, moet hy van sy rugbybeseringsversekeringsgeld leef.

Derick sê sy grootste prioriteit is nou sy kinders en om vir hulle te sorg.

“Hulle verdien nie hierdie nie. Vir enige kinders wie se ouers skei, is dit erg. Hulle verdien dit nie.

Lees ook: Derick Hougaard: ‘Daar is geen skaamte om ’n gebreekte man te wees nie’

“Deur die huis te verhuur, kan ek geld spaar vir die kinders vir eendag. Ons almal weet Suid-Afrika gaan nie makliker of goedkoper word nie.

“Dit is ’n wyse besluit en as pa is dit die regte ding om te doen.”

Derick sê hy het al baie navrae na sy twiet gekry van mense wat in sy plek belangstel. Waarheen hy gaan trek, is nog vir hom ’n raaisel.

Twee dinge weet hy: dit sal in Pretoria wees naby sy kinders en dit sal ’n plek met ’n erf wees “want elke kind het ’n agtertuin nodig waar hulle kan speel en hul nonsens aanvang”.

“Daar is net een mens by wie my kinders kan leer om ’n regte man te wees en dit is by my. Ek weet nie altyd in watter omstandighede hulle is en dit maak my mal. Al waaroor ek beheer het, is wanneer hulle by my is. Ek hoop net dit wat ek hulle leer, vryf af op hulle eendag.”

– Hilda van Dyk en Jana van der Merwe

Ander stories op Huisgenoot.com

Is die vermiste MH370 naby die Kaap gevind?

Dubbele vreugde vir Bobby van Jaarsveld op sy verjaardag

Vrou vertel van haar ‘verlammende vrees’ vir werk

Is hierdie die 10 beste Afrikaanse flieks van alle tye?