In die laat-middernagtelike ure gisteraand het Derick Hougaard in ’n inskrywing op sy Facebook-blad sy hart uitgestort teenoor sy twee seuns, Daniël en Eliah.

[caption id="attachment_110476" align="alignnone" width="419"]Bron: Facebook Bron: Facebook[/caption]

“Ewe skielik is die huis leeg,” het Derick geskryf. “Elke uur van elke dag mis ek julle.”

Binne etlike ure ná hy die brief gedeel het, is dit meer as 6 000 keer ‘gelike’ en meer as 1 400 keer gedeel. Bemoedigende kommentaar stroom ook in.

Derick is vroeër vandeesmaand ná net 42 dae finaal van sy vrou, die sangeres Karlien van Jaarsveld, geskei.

Vir Derick is die hartseerste die feit dat hy nie meer die laaste gesig is wat sy kinders sien saans voor hulle gaan slaap nie.

“Ek is ook nie die laaste persoon wat julle soen en julle sien voor julle droomland toe gaan daar waar Jesus julle mooiste drome laat droom [nie],” het Derick geskryf. “Julle is die rede hoekom ek soggens opstaan, al voel dit ek kan nie.”

Julle is die rede hoekom ek soggens opstaan, al voel dit ek kan nie.

In sy brief betwyfel Derick ook sy verlede en vra sy seuns of daar “meer of minder” was wat hy kon gedoen het “om julle ’n heel huis te gee”.

“Ek hoop 100 jaar van nou kan julle nog steeds lees hoe baie ek julle lief het.

“Ek mis alles van julle grootword,” het Derick mismoedig bygevoeg.

Hoewel die brief aan sy tweeling-seuns (wat in Desember twee word) gerig is, maan Derick ook ander pa’s om alles in die stryd te werp om hul gesinne bymekaar te hou.

“Al moet jy alles los wat seer veroorsaak. Kinders red ’n vrou en ’n vrou red ’n man. Die regte vrou is die beste iets wat God ooit gemaak het. En mis my lyfies.

"Pa’s fight. Al kos dit alles wat jy het, jou ego, jou kwaai wees, jou gewoontes, alles. Want met tyd sal jou hele familie jou voorbeeld volg. Jy stap voor,” het hy geskryf.

Die besonderhede rakende die ooreenkoms tussen Derick en Karlien oor toesig van hul tweeling is nie bekendgemaak nie.

Derick eindig sy brief af met trooswoorde aan sy seuns dat hy altyd daar sal wees vir hulle. “Ek sal in [die] agtergrond julle grootste ondersteuner wees. Met trane in my oë. Ek hoop ek los ’n ‘legacy' waarop julle trots sal wees om my julle pa te noem al gebeur wat.

“Love you guys.”