Derick Hougaard oorweeg dit om Kaap toe te verhuis, maar het nog nie ’n finale besluit daaroor geneem nie.

Die voormalige Springbok-rugbyspeler het op 6 Januarie in ’n Facebook-plasing foto’s van sy huis in Olympus Country Estate in Pretoria-Oos gedeel.

Hy beskryf die verkoop in die inskrywing as redelik dringend en verskaf ’n e-posadres waar voornemende kopers hom kan kontak.

Derick sê hy kry ongelooflik baie navrae oor die huis en die eerste belangstellendes kom reeds Woensdag na die huis kyk. “Dan moet ek my lemoene vat,” het hy die trek uit die huis beskryf.

Hy het verskeie opsies oor waar hy tydelik kan woon wanneer sy huis eers verkoop is en voordat hy finaal besluit het waarheen hy gaan.

“Dit is hartseer vir my. Dit is nie hoe ek my lewe gesien het nie,” het Derick gesê.

“Die lekker is in dié stadium maar min. Daar is niks lekker nou nie, maar ek glo daar sal in die toekoms lekker wees.”