Derick Hougaard is darem nie vir altyd vir Suid-Afrika verlore nie. Loftus Versfeld se liefling het omtrent sy aanhangers bekommerd gehad met ’n twiet op Gekkedag toe hy skryf: “Gaan my seuns mis. Maar Hongkong, hier kom Heyneke en Derick. Laat ons rugby speel!”  

“Ons gaan jou mos mis, Derick Hougaard, Liefling van Loftus,” het ene Rita Tyne vinnig laat hoor.

Huisgenoot het betroubaar verneem Derick is net ’n week lank vir ’n rugbytoernooi in Hongkong. Hy het Heyneke Meyer na die toernooi vergesel.

Sport24 het in Februarie berig Heyneke is aangestel as die besturende direkteur van Carinat Sports Marketing, wat hier gebaseer is.

Deel van Heyneke se pligte is om verskeie sportprojekte in Suid-Afrika te ontwikkel en Carinat se onderneming in Afrika en Europa uit te brei. Derick het dié twiet gemaak ’n dag nadat hy getwiet het: “Al die herinnerings, my troue, my kinders, hul geboortes, vakansies en tye saam. Alles is weg. Baie hartseer.”  

Dié het hy geskryf ’n paar dae nadat sy eksvrou, die sangeres Karlien van Jaarsveld, stil-stil met Joe Breytenbach getroud is.

Derick is omtrent toegevou in ’n kombers van omgee deur sy Twitter-aanhangers, waarvan die meeste net gesê het hy moet vorentoe kyk en nuwe herinnerings skep.