Die voormalige Blou Bul-speler Derick Hougaard was Maandagaand in 'n "groot" motorongeluk betrokke, berig Netwerk24.

Derick het 'n foto op sy Facebookblad en Twitter gedeel van die ander motor wat in die ongeluk betrokke was. Die voorkant van daardie motor was erg opgefrommel.

"Dankie Netcare911!!! Was in 'n groot ongeluk. Julle was amazing. Waardeer opreg. Julle almal Harte van Goud. Regtig Dankbaar!!! God Seën julle," het die rugbyheld by die foto op Facebook geskryf.

Boodskappe van blydskap en ondersteuning het ingestroom, met 'n ene Nicole Breedt wat byvoorbeeld skryf "Ek is so verskriklik bly dat jy okay is Derick dankie God dat jy Derick se lewe gespaar het want sy seuns het hom nou nodig."

Volgens Johnny Burger, Derick se woordvoerder, was Derick op pad huis toe nadat hy die rugbyprogram SuperRugby aangebied het. Die ongeluk het glo in Marlbororylaan naby Sandton gebeur.

“’n Ander voertuig het teen ’n helse spoed teen Derick vasgejaag,” het Johnny gesê. Derick se motor is gelukkig net lig beseer en reeds ingestuur om reggemaak te word.

Derick het op sy Twitterblad geskryf: "Behalwe vir die lyf meer as 100% Net dankbaar. Dankie vir omgee liefde." En later: "Onkruid vergaan mos maar moeilker."

Dié nuus volg kort na dit bekend gemaak is dat Derick en sy vrou, Karlien van Jaarsveld, se paaie gaan skei.

Bron: Netwerk24

Lees ook op Netwerk24: