’n Paar dae ná Karlien van Jaarsveld in die sosiale media hart oopgemaak het oor haar miskraam in 2015, het haar eksman, Derick Hougaard, gesê hy dink nog elke aand voor hy gaan slaap aan “sy dogtertjie”.

Hy en Karlien is sowat agt maande ná die hartseer van twee jaar gelede geskei.

Derick het Donderdagoggend ’n lang Facebook-inskrywing met sy aanhangers gedeel. In dié inskrywing het hy geskryf: “15 Jan twee jaar terug het ek my dogtertjie verloor. Aan wie ek elke aand dink voor ek kan slaap. Ek sê aspris my dogtertjie, want sy was nie net myne nie. Sy was Karlien se baba ook. Al weet ons kinders word vir ons geleen.”

Derick het geskryf dat hy Karlien “meer as enigiets jammer kry”.

“Want sy is ’n amazing vrou. Talentvol en mooi en ’n great ma." En hoewel hy kan verstaan hoe seer dit vir haar is, glo hy ook dat berusting moontlik is.

Karlien het verlede jaar aan Joe Breytenbach verloof geraak.

Sy is deesdae saam met haar broer, Bobby, te sien in die VIA-televisiereeks Bobby en Karlien: In Jou Skoene.

Derick het sy huis in Pretoria onlangs in die mark gesit. Hy oorweeg dit om Kaap toe te verhuis, maar het nog nie finaal besluit nie, het Huisgenoot vroeër berig.