“Mense hou van come back-stories,” skryf Derick Hougaard.

Dié voormalige rugbyspeler en Loftus se liefling het hom Woensdagaand tot die sosiale media gewend en die eerste keer in ’n lang tyd sy hart met sy aanhangers gedeel.

“Ek het in stilte tussen vier mure geskryf. Dit was die veiligste opsie, want mense kan nie hul eie aannames maak nie. Maar ek voel die tyd is reg om weer my hart en vrae met almal te deel,” het Derick in Engels geskryf.

“Hopelik help ek een siel om te weet dat hy nie alleen is nie.”

Derick het onder meer geskryf oor die behoefte aan helde, hoop, val en opstaan.

Volgens hom word dikwels na sakemense en beroepsportlui opgekyk, maar terwyl mense hulle bewonder en prys, is hulle ook in hul agterkop gereed om hulle “af te skryf”.

“Suid-Afrika het helde nodig,” gaan Derick voort. “Veral in die lig van wat in die regering gebeur.”

Volgens hom moet kinders deur dié helde geïnspireer, maar terselfdertyd toegerus word om hul eie drome te bereik.

“ ’n Kind se droom is die magtigste ding en hopelik word dit nooit weggeneem van ’n kind as gevolg van politiek-gedrewe agendas nie.”

Derick se aanhangers was verheug dat dié oud-Springbok weer sy denke met hulle gedeel het en het hom terug verwelkom. Van hulle was dit eens dat hulle sy “diep woorde” en “wysheid” gemis het.

Lees Derick se volledige inskrywing: