Derek, die krimpvarkie, het homself in ’n stekelrige situasie bevind toe spanning by hom daartoe gelei het dat hy al sy penne verloor het.

Hy was ’n skrale twee weke oud toe ’n beseerde Derek in September 2015 in ’n tuin in Hertsfordshire in die suide van Engeland gevind is. Daar word vermoed dat hy deur ’n voël gepik is; vandaar die beserings.

Lees ook: Piepklein krimpvarkie geniet ’n piepklein verjaardagpartytjie

Terwyl hy by ’n nabygeleë liefdadigheidsorganisasie Herts Hogline vir sy beserings versorg is, het die arme Derek sy penne begin verloor. Teen die einde van Februarie was hy geheel en al kaallyf.

Die penne is deels vir beskerming, maar ook om hom warm te hou. Maar sy traumatiese kinderjare het hom kwesbaar teen aanvalle en die koue gemaak.

Daar was “geen manier” dat Lynne Garner (49) van Herts Hogline vir Derek aan die genade van die elemente sou oorlaat nie.

Lees ook: Dis nou tyd vir Sylvester die leeu om te kalmeer

“Hy was kleiner as ’n marmotjie toe ons hom gevind het,” het sy aan Metro gesê.

Sy het die hulp van ’n vriendin, Monique Blackford, ingeroep. Sy verwys na Monique as ’n krimpvarkie-“fluisteraar”.

Deur haar ingryping, rou organiese kokosneutolie-masserings drie keer ’n week en afstandsgenesing is Derek deesdae weer pure krimpvarkie met stekelrige penne wat stadig maar seker weer hul verskyning begin maak.

Pretfeite oor krimpvarkies

? Krimpvarkies het van 5 000 – 7 000 penne op hul lyf.

? Daar is 17 verskillende soorte krimpvarkies.

? Hulle maak staat op hul gehoor en reuk omdat hul sig baie power is.

? Krimpvarkies se penne is nie giftig nie.

? Hulle is nagdiere wat gewoonlik bedags ’n uiltjie knip.

? Krimpvarkies is as ’n reël immuun teen slanggif.

? Nadat jy hierdie video gekyk het, gaan jy in alle waarskynlikheid jou eie krimpvarkie wil aanneem:

- Annelene Oberholzer

Bronne: dailymail.co.uk, metro.co.uk, sciencekids.co.nz, mentalfloss.com, youtube.com