Katherine Heigl het weer ma geword!

Die voormalige Grey’s Anatomy-ster en haar man, Josh Kelley, het klein Joshua Bishop op 20 Desember verwelkom, maar nou eers die babanuus bekendgemaak. Katherine (38) het in Junie in ’n plasing op haar blog, Those Heavenly Days, bevestig sy is swanger en onthul die nuus was nogal ’n skok vir die egpaar.

“Aangesien ek nog nooit swanger was nie en my verloskundige en ginekoloog my verlede jaar daaraan herinner het ek is van ’n gevorderde moeder-ouderdom, was ek nie seker of swangerskap eens vir ons moontlik is nie,” het sy geskryf.

“Dit blyk toe dit was baie moontlik!

“Dit was heeltemal onverwags, maar nietemin opwindend . . . Die hele swangerskapservaring is vir my nuut; maar die opwinding om ’n baba te hê is nie.”

Katherine en Josh is ook die ouers van die agtjarige Naleigh, wat hulle in 2009 uit Suid-Korea aangeneem het, en haar aangenome suster, Adelaide (vier).

[caption id="attachment_154595" align="alignnone" width="594"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Die aktrise het in ’n onderhoud in September gespot oor haar kosdrange tydens swangerskap. Sy het verklap sy is aan gemorskos verslaaf en kan nie oliebolle uit haar gedagtes kry nie.

Sy het aan Entertainment Tonight gesê: “Op die stel het hulle altyd ’n verskeidenheid oliebolle in baie mooi pienk bokse en ek kan nie ophou dink daaraan nie.”

Klein Joshua is dalk nie die egpaar se laaste baba nie. In ’n onderhoud in 2012 het Katherine aan E! News gesê: “Ek wil beslis nog kinders hê. Ek dink ons het op twee ooreengekom, maar ek druk vir vier.”

Katherine het nog ’n “baba” op pad in die vorm van ’n nuwe TV-reeks. Haar drama, Doubt, word van volgende maand af in Amerika uitgesaai.

© Cover Media