Die departement van basiese onderwys het Donderdag ’n webtuiste veroordeel wat betaal vir beeldmateriaal van skoolgevegte.

“Ons beskou die webtuiste as ’n vulgêre verheerliking van geweld,” het die woordvoerder Troy Martens in ’n verklaring gesê.

Die webtuiste, schoolfights.co.za, nooi mense om video’s in te stuur: “Het jy ’n video van ’n skoolgeveg? Dit kan dalk ’n paar rand werd wees!”

Dit bevat video’s van gevegte, met titels soos “Twee SA skoolseuns baklei oor rondlopermeisie” en “Jy sal nie glo wat hierdie Afrikaanse meisies aan hul vet klasmaat doen nie!”

The Star het Donderdag ’n berig op hul webtuiste geplaas, en die webtuiste het toe later dié aankondiging geplaas: “Let asseblief daarop dat ons nie kan betaal vir videogevegte waarby minderjariges betrokke is nie! Gevegte tussen twee of meer toestemmende volwassenes sal egter oorweeg word.”

Sowat 1 000 mense volg die webtuiste op Facebook. Troy het gesê: “Leerders word deur die webtuiste en die Facebook-blad aangespoor om gewelddade te pleeg en die beeldmateriaal in te stuur.”

Die departement het gesê hulle gaan die webtuiste aan die relevante owerhede rapporteer in ’n poging om dit te sluit. “Sulke optrede moet nooit aangemoedig word nie, veral omdat die departement poog om boeliegedrag stop te sit en geweld uit ons skole te hou.”

- Sapa