DIS dae ná die “moord’’, en dit lyk steeds asofDeon Helberg ’n spook gesien het. Niks in die 21-jarige Bloubul-rugbyspeler se lewe kon hom voorberei op wat die afgelope tyd gebeur het nie.

Die besef dat hy werklik dood kon gewees het, het nog nie ingesink nie.

Deon noem net een keer in ons eksklusiewe onderhoud Manda Reyneke (47) se naam, want vir hom is die vrou wat na bewering sy moord beplan het, steeds ‘‘tannie’’ – die tannie van Middelburg wat hom met geskenke oorlaai het toe hy in sy matriekjaar met haar modeldogter, Jalien (20), begin uitgaan het. En wat so gaaf was om hom te nooi om naweke by hulle te bly pleks van in die koshuis van die Hoër Tegniese Skool Middelburg.

Maar toe het die “tannie’’ ál meer obsessief begin raak oor hom en selfs sy vriende onophoudelik begin teister.

Dis dieselfde tannie wat die afgelope jaar glo beplan het om hom te laat vermoor en toe twee Nigeriese mans sou betaal het om die vuilwerk te doen.

In ’n dramatiese wending het daar net ’n skynmoord plaasgevind omdat die huurmoordenaars Deon betyds gewaarsku het en die polisie ingegryp het. Die foto van Deon se ‘‘lyk’’ was ’n lokval waarmee die polisie Manda in Pretoria vasgetrek het.

Byna oornag het die jong man die hoofspeler in ’n drama geword wat die land aangegryp het.

Lees al Deon Helberg se onthullings in die Huisgenoot van 2 Desember 2010 - alles oor die beweerde moordplan van sy eksmeisie se obsessiewe ma en haar seks-eise.