Die 51-jarige aktrise het verlede week op ’n drie dag lange reis na Indië met haar geestelike ghoeroe Hargopal Kaur Khalsa vertrek.

“Demi sê sy het nou berus in die egskeiding, maar het gevoel sy moet haar kop skoonkry van al die slegte energie,” het ’n bron gesê. “Demi sê nou sy is heeltemal oor Ashton, en is selfs gereed om vir Mila in haar lewe te verwelkom.”

Die Margin Call-aktrise het op aanbeveling van haar vriend Russell Brand die reis onderneem. Hy het ’n soortgelyke reis aangepak ná sy egskeiding van Katy Perry. “Russell het gesê dit sou haar help om perspektief te kry en haar op die regte spoor hou,” sê die bron.

Maar die reis was glad nie maklik vir Demi nie, wat rehabilitasie ondergaan het ná haar en Ashton se paadjies geskei het, omdat sy heeltemal stil moes bly. Sy het ook die Craving, Desire and Addiciton-konferensie bygewoon waar die Dalai Lama die gasheer was.

“Dit was moeilik vir haar,” het ’n bron aan die tydskrif Grazia gesê. “Sy was op haar gemak met alleen wees, maar dit was ’n groot uitdaging om nie te kan praat nie. Demi kry nog hulp vir haar jare lange stryd teen dwelms en alkohol, en nadat sy en Ashton uitmekaar is, het sy weer in die strik getrap. Sy is baie versigtig daarvoor dat die egskeiding haar nie weer die pad laat byster raak nie.”