Nooddienswerkers het tot laat Maandagmiddag probeer om by haar lyk uit te kom, berig Herald Live.

“Twee volwassenes het met ’n staproete na die hoogste bergpiek by Nieu-Bethesda voetgeslaan toe ’n 22-jarige vrou, Karoline Bolvig Klindt, 70 m ver geval het,” sê die Oos-Kaapse polisiewoordvoerder Khaya Tonjeni.

Volgens Khaya het Karoline van ’n rotsrand by ’n kloof afgeval. “Dit lyk asof sy nog 10 m ver gerol het voor (sy) tot stilstand gekom het, net bo ’n skeur,” sê Khanya.

Karoline se vriend, Héctor Grau Bolívar, het glo by ’n plaas, 5km van waar die ongeluk gebeur het, gaan hulp soek.

“Die omstandighede was nie gunstig nie, en met die donker en die steil grondoppervlak het polisiebeamptes onvermoeid voortgegaan om te soek tot sy Sondagnag 20 voor 11 gevind is.”

Khaya sê Karoline se oorskot is eers Maandag deur lede van die polisie se soek-en-reddingseenheid van die toneel verwyder.

“Die ministerie van buitelandse sake kan bevestig dat ’n Deense vrou in Suid-Afrika oorlede is,” het Karina Hedemark, ’n woordvoerder van die Deense konsulaat, aan Huisgenoot gesê. “Haar naasbestaandes is ingelig van haar dood.” Karoline en Héctor het glo vanaf die Ganora-gasteplaas op hul staptog vertrek, berig Herald Live. Héctor het die afgelope paar weke foto’s van sy reis op Instagram gedeel. Hy het dié foto, wat op Nieu-Bethesda geneem is, sowat ’n week gelede gedeel. Dit is nie bekend of hy en Karoline saam gereis het nie.

Héctor was ook ’n ruk gelede in Kaapstad.

15 de septiembre, desde Ciudad del Cabo, feliz día de la Bien Aparecida a todos los cántabros!

A photo posted by Héctor (@hectormcgrau) on

Die hele gemeenskap in en om Nieu-Bethesda is deur die voorval geruk. ’n Inwoner Charmaine Haines het op Facebook geskryf dat ’n helikopter vir ure in die lug rond gevlieg het, terwyl nooddienswerkers probeer het om by Karoline se liggaam uit te kom.

Baie inwoners van die dorp het met simpatie en trooswoorde op haar Facebook-inskrywing gereageer.

Jason du Preez van Graaff-Reinet het aan Huisgenoot gesê dat hy vir Karoline tydens haar besoek ontmoet het en dat sy wou hê Jason moes haar en Hector die afgelope naweek in ’n kano geneem het om wild te kyk. “Maar ek kon nie want ek was ongelukkig besig.”

Volgens Jason is selfs die mense in Graaff-Reinet diep geskok oor die tragedie.

’n Bestuurder van die Ganora gasteplaas wou nie kommentaar lewer oor die voorval nie en het dit net na die Deense konsulaat verwys.