Die voormalige verpleegster was van Oktober 1999 net minder as drie jaar met die Thriller-sanger getroud en is die ma van Prince (17) en Paris (15). Sy het deurgeloop onder kritiek van Michael se broers, Tito, Randy, Jermaine en Jackie Jackson. Dit kom nadat sy gevra het dat sy haar kinders se wettige voog raak en hul broer, Blanket (12) – wat via ’n surrogaatma gebore is – onder haar vlerk neem omdat sy dink hul ouma, Katherine Jackson, is te oud om behoorlik na hulle te kyk.

’n Bron het aan die webtuiste TMZ.com gesê Debbie, wat haar verhouding met haar kinders ná Michael se dood in 2009 herbou het, was nie verras oor die kritiek nie, maar hou vol dat sy nooit haar rug op Prince en Paris gedraai het nie, en dat Michael haar gereeld vir ouerskapsraad gebel het.

Michael se broers het Vrydag teruggekap en gesê: “(Die kinders) is geliefd en goed versorg. Ons is verras dat me. Rowe nou besluit het om hul lewe te betree nadat sy haar kinders soveel jare gelede vir geld verlaat het.”

Debbie voer aan Michael het dikwels sy broers daarvan beskuldig dat hulle op hom teer, en hy het gedink Janet Jackson is die enigste van sy sibbe wat talent het.

Hoewel sy van Katherine hou, wil Debbie hê die kinders moet op haar perdeplaas in Palmdale, Kalifornië, woon omdat sy glo daar word nie behoorlik toesig oor hulle gehou nie. Sy dink die Jackson-broers is net bekommerd dat hulle toegang sal verloor tot die maandelikse onderhoud van sowat R525 000 van Michael se boedel as sy toesig kry.

Debbie het onlangs bevestig sy is verloof aan haar jarelange kêrel, Marc Schaffel, wat in 2001 saam met Michael gewerk het aan sy liefdadigheidsliedjie What More Can I Give.