Debbie Rowe het gedreig om Michael Jackson se dokter te dagvaar. Hy het gesê sy het Demerol gesteel om aan die oorlede ster te verskaf.

Die 54-jarige verpleegster het op Twitter in ’n hewige woordewisseling met die dermatoloog dr. Arnold Klein betrokke geraak. Hy het beweer sy het die sterk pyntablette by sy praktyk gesteel om die sanger se verslawing te voed. Debbie het in die 80’s as verpleegster by Arnold gewerk, en hy het haar aan Michael voorgestel.

Arnold het Maandag in sy blog geskryf: “Debbie Rowe het Demerol, wat sy by my kantoor gesteel het, vir Michael gegee. Sy is ’n bedrieër.”

Debbie, die ma van twee van Michael se kinders, Prince (16) en Paris (15), ontken die bewerings in ’n reeks woedende twiets. Sy sê Arnold probeer sy betrokkenheid wegsteek by wat eindelik gelei het tot Michael se dood aan aktute Propofol-bedwelming in Junie 2009.

Sy het op Twitter geskryf dis ’n misdaad om ’n beheerde middel te steel. As sy dit gedoen het, sou sy in die gevangenis gewees het, maar sy is nie.

Toe ’n Twitter-gebruiker haar vra of sy wetlik gaan optree oor die beskuldigings, het sy geantwoord: “Ek gaan.”

Arnold het die beskuldigings gemaak nadat Debbie in die hof gesê het Arnold het Michael se dwelmverslawing gevoed. Sy het in Julie getuig in Katherine Jackson se hofsaak van biljoene dollar teen die konsertpromotors AEG Live. Katherine beweer hulle het ’n aandeel in sy dood gehad.