Debbie, die ma van Michael se kinders Prince Michael (16) en Paris (15), is met afgryse vervul oor Wade se bewerings dat Michael hom gemolesteer het en sê hy is ’n leuenaar.

“Ek was kwaad toe ek hoor Wade Robson het sy beëdigde getuienis in die hof in 2005 omgeswaai en beweer nou dat hy die slagoffer van seksuele mishandeling was,” het sy aan TMZ gesê. “Sy poging om publisiteit te kry, is opportunisties en vals. Dit sal gou vergete wees en niks sal Michael se ongelooflike nalatenskap bevlek nie.”

Wade was een van die getuies tydens Michael se kindermolesteringsaak in 2005 en sy getuienis, tesame met dié van sy suster en ma, was glo deurslaggewend in die vryspreking van die sanger, maar hy het nou van deuntjie verander en beweer Michael het hom sewe jaar lank gemolesteer.

Die choreograaf het op 1 Mei in regsdokumente geld gevra van die Michael Jackson-boedel ter vergoeding van die beweerde molestering.