Geen alarms het afgegaan in die nag toe die Van Breda-gesin grusaam vermoor is nie. So het Lorenzo Afrika, ’n sekuriteitsbeampte van die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch, vandag in die hooggeregshof in Kaapstad getuig waar Henri van Breda teregstaan weens die bylmoorde einde Januarie 2015 op sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), en broer, Rudi (22).

Maar adv. Matthys Combrink, vir die verdediging, het uit ’n verslag van De Zalze se veiligheidsverskaffer, Thorburn Security, voorgelees dat drie alarms tussen 26 en 27 Januarie op die landgoed afgegaan het. Volgens Lorenzo is hy nie hiervan in kennis gestel nie.
Matthys het die veiligheidsmaatreëls op die landgoed in detail met Lorenzo nagegaan. Hy wou meer weet oor die kameras op die landgoed – hoeveel beweeg en hoeveel staties is – en wat presies Lorenzo se take is wanneer hy die ontwikkeling patrolleer.
Hy moes ook verduidelik hoe hy die heining toets om seker te maak die kraglading is hoog genoeg. Hy toets elke dag 15 van die 43 sones op die landgoed. Volgens Lorenzo, wat in Oktober 2014 by De Zalze begin werk het, het hy voorheen op ’n ander landgoed gewerk. Hy het getuig hy het ervaring van wat die beste manier is om sekuriteitsaspekte na te gaan.
Matthys het hom ook uitgevra oor die skade aan die heining wat die rivier aanrig wanneer dit afkom en of dit daartoe kan lei dat die elektriese heining geaktiveer word. Lorenzo het bevestig nat sand kan dit wel aktiveer. Hy het ook getuig al die kameras het gewerk op die aand van die moorde. Henri het deurentyd met ’n pen in sy hand en ’n notaboek voor hom sit en luister. Sy oom André du Toit het hom weer in die hof bygestaan.