Dit is hoogs waarskynlik dat die snywonde op Henri van Breda se bors en voorarm, asook die steekwonde aan sy sy self toegedien is.  

Dít is die mening van dr. Marianne Tiemensma, die forensiese patoloog wat Dinsdag weer in die getuiebank was. Sy het bygevoeg dit is minder waarskynlik dat die beserings aan sy voorkop en knie, asook die krapmerke op sy rug self toegedien is. Daar was heelwat spanning tussen haar en adv. Piet Botha, wat bly volhou het dat die beserings veroorsaak kon word in ’n aanval. Ter stawing van sy argument het hy verskeie scenario’s met ’n pen en daarna die mes geïllustreer.  

Tiemensma het voet by stuk gehou dat die snye net te netjies is.

“Wanneer meswonde self toegedien is, is dit gewoonlik vlak en dit vermy sensitiewe areas,” sê sy. Sy het verder gesê al Henri se wonde is vlak, die meeste van hulle is saam gegroepeer, in dieselfde vorm, loop parallel aan mekaar en is almal op plekke wat hy maklik kon bykom.  

Tiemensma het gesê al wanneer jy sulke wonde sien, is wanneer iemand gemartel is of die wonde self toegedien is, aangesien jy volle beheer oor die skerp voorwerp sal moet hê. “Met ’n aanval sou jy verwag dat die wonde verskil van diepte en skewer loop, aangesien die persoon wegruk om die pyn te vermy.”  

Henri het sigbaar ontsteld gelyk tydens dié gedeelte van die getuienis.

Tiemensma het ook kommentaar gelewer op die bewerings dat Henri ’n lang tyd bewusteloos was weens ’n hou teen sy kop.

“In 90% van gevalle verloor iemand met harsingskudding nie hul bewussyn nie, en indien wel, duur dit hoogstens ’n paar minute.”

Verder het sy gesê indien hy flou geraak het van skok, sou dit slegs vir ’n paar sekondes gewees het.