Teresa van Breda se broer, André, het Dinsdag in die binneverhoor van die saak teen sy susterskind, Henri van Breda, getuig.

Henri word daarvan aangekla dat hy sy ma, Teresa (55), pa, Martin (54), en broer, Rudi (22), in die vroeë oggendure van 27 Januarie 2015 op die spoglandgoed De Zalze buite Stellenbosch met ’n byl afgemaai het. Hy word ook aangekla van poging tot moord op sy jonger suster, Marli (17), wat erge kopbeserings in die aanval opgedoen het, asook regsverydeling.

Hy was ten tyde van die oproep by die werk en het sy vrou, Sonja, gebel om hom op te laai. Hy het met hul aankoms ongeveer tienuur die oggend besef daar is groot fout omdat die gebied met geel polisielint afgesper is. Daar was ook verskeie polisievoertuie op die toneel.

André het wel toegang tot die perseel bekom waar hy ’n gesprek met kol. Deon Beneke gehad het.

Hy is in kennis gestel dat Henri na die polisiekantoor en Marli na die hospitaal geneem is. Dit was ook André wat Martin se tweelingbroers van sy dood in kennis moes stel.

André en Sonja kon Marli nie by die hospitaal besoek nie. Sy is intussen na die Vergelegen Mediclinic geneem. Die egpaar is daarna na die polisiekantoor, maar kon Henri ook nie sien nie.

Hulle het na James Reade-Jahn, in daardie stadium Marli se vriend, se ouerhuis gegaan.

James het op 11 Mei 2017 getuig hy en Henri was goeie vriende. Hy is die persoon wat op 10 Januarie 2015 ’n skokkende boodskap aan Marli gestuur: “Ek wil die mense om jou vermoor." 

Bianca van der Westhuizen, Henri se vriendin, het ook by James se ouerhuis opgedaag.

Dit was ’n emosionele tyd waartydens baie trane gestort is. André voer aan hulle en Henri het mekaar vasgehou en gehuil. Hulle weet hy hakkel wanneer hy vinnig praat.

Henri sou by James agterbly sodat hy Marli die volgende dag kon besoek.

Sonja het opgemerk Henri se wonde is diep en het voorgestel hy kry steke daarvoor. Dit is hoekom hy hospitaal toe is.

Onder kruisverhoor voer die staat aan niemand is van Henri weggehou nie. Dit was vir vriende van hom moontlik om vir hom klere te bring.

Adv. Susan Galloway (vir die staat) het André gevra oor die erns van Henri se wonde. André het nie met die dokters se mening saamgestem dat dit nie ernstig was nie.

Sy het dit ook aan hom genoem dat nadat André die huis verlaat het, Sonja vir Henri aangeraai het om steke te kry. Hy het egter net voortgegaan om ’n bier te drink. André het gesê hy dra nie kennis daarvan nie.

Ook is aan André gestel dat Henri se gedrag deur die loop van die dag verskil van by die huis, by die dokter en by die polisie. Hy het saamgestem en gesê hy het gehoor Henri was vriendelik en geselserig met die personeel toe hy by die hospitaal opdaag.

Die saak gaan Woensdag voort.