Ralph Montjies, ’n busbestuurder van die Strand, ry elke dag met die trein Kaap toe om die Van Breda-moordverhoor by te woon. Volgens Times Live het hy Dinsdag twee keer met Henri gesels. Die gesin se middelste kind staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord. Sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), en ouboet, Rudi (22), is op 27 Januarie 2016 grusaam met ’n byl vermoor. Sy suster, Marli, het ernstige kopwonde opgedoen tydens die voorval, maar het oorleef.

“Ek het vir hom gesê hy moenie bekommerd wees dat die publiek hom reeds skuldig bevind het nie; ek gaan ’n gebedsgroep vir hom begin,” het Ralph gesê.

Hy sê ook hy gee Henri die voordeel van die twyfel. Henri se oom, André du Toit, is ook weer vandag in die hooggeregshof in die Kaap. Die veiligheidsbeampte van die luukse De Zalze-landgoed waar die moorde plaasgevind het, Lorenzo Afrika, het Dinsdag getuig hy het die dag van die moorde die elektriese heining om die landgoed nagegaan om seker te maak alles is in orde.

Lorenzo het daardie nag vyf keer die landgoed gepatrolleer en niks buitengewoons opgemerk nie. Hy het ook niemand op die landgoed sien rondloop nie. Hy het selfs gesê net ’n padda wat teen die heining spring, sal die alarmstelsel aktiveer.

Die klem sal na verwagting vandag op die posisie van die veiligheidskameras val.

Volg die verrigtings regstreeks hier