Prof. Johan Dempers het ’n verslag oor Henri van Breda se beserings saamgestel. Alle inligting oor Henri se verklaring en hoorsêgetuienis is uit die verslag weggelaat wat aan die hof voorgelê word. Dempers dui aan dat ’n verdere ondersoek genoodsaak was omdat Henri se beserings van die res van sy gesin s’n verskil het.

Hy beskryf die aard van elke lid van die gesin se beserings en dui aan dat Martin en Rudi, onderskeidelik Henri se pa en broer, soortgelyke houe teen die kop toegedien is. Rudi het verdedigingswonde aan sy linkerhand gehad. Martin het ’n kapwond van 100 mm gehad.
Teresa het ook verdedigingswonde aan haar vingers gehad. Dit stem nie ooreen met dié van Henri nie. Dempers noem voorts dat Henri se wonde konsekwent is met wat teoreties as selftoegediende wonde beskryf word. Hy noem ook dat dit vir hom moeilik is om te aanvaar dat die aanvaller Henri bloot krapmerke sou toedien.
Henri is regshandig; dus is daar ’n moontlikheid dat wonde aan sy linkerkant deur homself toegedien kon wees. Dempers is ook nie oortuig dat die mes in Henri se maag sou bly vassteek het nie. Hy dui die diepte van die wond as 1 cm aan.
Dempers hanteer die mes in die hof en sê dié bewysstuk het nie ’n vlymskerp lem nie. Hy het Henri se wond as 17 mm wyd aangeteken.
Onder kruisverhoor deur adv. Pieter Botha beskryf Dempers weer die wonde aan Henri se lyf as oppervlakkig. Hy sê ook dat nie al die wonde noodwendig self toegedien is nie, maar wel die krapmerke op sy arms, borskas en moontlik die steekwond.

Op Botha se vraag of die wonde aan Henri se arms en bors deur ’n aanvaller veroorsaak kon word, sê Dempers dit is moontlik, maar dan moes Henri doodstil gestaan het.