Dr. Daphné Anthony, patoloog, het Donderdag grusame besonderhede oor die Van Breda-gesin se beserings in die Wes-Kaapse hooggeregshof bekend gemaak.

Anthony het ook getuig dat die beserings wat Marli, die jongste lid van die Van Breda-gesin, opgedoen het, soortgelyk was aan dié van haar oorlede ouers en ouer broer. Die talle verdedigingswonde aan haar hande dien as bewys van haar geveg om haar lewe. Volgens Anthony het Marli harder teen haar aanvaller geveg as haar gesinslede. Sy beskryf dit as ’n geveg tussen Marli en die aanvaller. Sy getuig ook dat Rudi die mees gewelddadige van almal aangeval is, gevolg deur sy pa, Martin, en dan sy ma, Teresa.

Marli van Breda

Anthony getuig verskeie faktore het daartoe bygedra dat Marli die aanval oorleef het. Ouderdom, bloedverlies en die erns van wonde kan ’n slagoffer se kans op oorlewing bepaal, het sy getuig. Sy weet nie of Marli skedelfrakture of breinbeserings opgedoen het nie.

Rudi van Breda

Anthony getuig dat Rudi in alle waarskynlikheid op sy bed gelê het. Hy het gesien wat kom en sy hand gelig om die aanval te probeer afweer. Op regter Siraj Desai se vraag oor hoe Rudi se lyk op die badkamervloer beland het as hy in sy bed aangeval is, voer Anthony aan dat hy óf self kon beweeg (omdat hy nie onmiddellik gesterf het nie) óf dat hy soontoe geskuif is. Rudi is in alle waarskynlikheid twee keer teen sy kop getref voor hy die aanval probeer afweer het. Sy getuig Martin was onbewus van die aanval, maar Teresa het na haar aanvaller gekyk.

Onder kruisverhoor vra adv. Pieter Botha of Anthony na die verdediging se forensiese patoloog, dr. Reggie Perumal, se verslag gekyk het en of daar enigiets in die verslag is waarvan sy verskil. Perumal se verslag dui daarop dat Rudi eers ná 2 uur en 40 minute gesterf het. Anthony sê sy kan nie met sekerheid daarmee saamstem nie.

Die saak duur voort.