Henri, geklee in sy kenmerkende blou hemp, das en grys baadjie, het gedurig met sy ring gespeel terwyl hy toegekyk het hoe sy regspan hul saak teen die staat voortsit.  

Van Breda se regspan het vandag die kruisondervraging van die staat se DNS-kenner, lt.kol. Sharlene Otto, begin.

Otto, hoof van die biologiedepartement van die SAPD se forensiese laboratorium, het gister die getuiebank ingeneem en getuig dat al 216 DNS-monsters wat in die Van Breda's se huis ingesamel en getoets is, aan die Van Breda-gesin toegeskryf kan word.

Daar is geen onbekende DNS in die moordhuis gevind nie, het sy getuig.

Adv. Matthys Combrink, vir die verdediging, het dadelik vir Otto gevra oor die betroubaarheid van die toetse wat op DNS-monsters gedoen is.

Otto het verduidelik al die toetse wat op die DNS-monsters uitgevoer is, het positief vir DNS getoets. 

Die DNS het óf aan Henri óf sy familielede behoort. Daar was geen negatiewe uitslag gewees nie, het sy gesê. Sy het verduidelik in sulke gevalle is daar geen rede om te vermoed die toetse is verkeerd afgeneem nie.

Combrink het aangedui die laboratorium waar die DNS-toetse uitgevoer, is nie internasionaal geakkrediteer nie. Hy het die geloofwaardigheid van die DNS-toetse bevraagteken. 

Otto het verduidelik die forensiese laboratorium is wel in die proses om internasionale akkreditasie te bekom, maar ook genoem min laboratoriums in die land beskik oor internasionale akkreditasie.

Sy het verseker hulle voer toetse volgens streng riglyne uit.  

Die saak gaan Donderdagoggend 10:00 voort wanneer die verdediging sal voortgaan met hul kruisverhoor.  

Die klagtes teen Henri van Breda

Henri staan tereg op drie aanklagte van moord op sy pa, Martin (54), sy ma, Teresa (55), en sy ouer broer, Rudi (22).

Die familie is op 27 Januarie 2015 met ’n byl in hulle huis op die spoglandgoed De Zalze buite Stellenbosch aangeval.

Hy staan ook tereg op 'n aanklag van poging tot moord op sy suster, Marli, en een van regsverydeling.

Henri het 24 April vanjaar skuld op al die aanklagte ontken.