Konst. Clinton Malan was eerste in die getuiebank. Hy moes die slagoffer (Henri) na die distriksgeneesheer neem om na sy beserings te laat omsien en te dokumenteer. Hy was ongeveer 08:00 op 27 Januarie op die toneel.

Die staat sê Henri is nie as ’n beskuldigde gesien tydens die aflegging van sy verklaring nie, maar as ’n slagoffer. Adv. Pieter Botha (vir Henri) voer aan dat sy kliënt wat in daardie stadium 20 jaar oud was, is nie van sy regte in kennis gestel is nie. Hy het ook nie regsverteenwoordiging gehad nie. Volgens Malan was Henri kalm en stil tydens die besoek aan die distriksgeneesheer. Hy was ook die eerste persoon wat ’n verklaring van Henri afgeneem het. Henri het om 12:30 by sy kantoor aangekom en die verklaring is teen 15:25 afgelê.
Henri het sowat drie sinne gesê waarna Malan dit sou tik. Hy het die verklaring in Engels afgelê en daarna het hy dit aan die slagoffer oorhandig. Henri het dit gelees en onderteken.
Malan sê Henri het openlik en vryelik sy weergawe gedeel van wat gebeur het. Henri was ook nooit in hegtenis geneem of van enigiets beskuldig tydens ondervraging nie.

Botha sê 90 persent van wat Malan in die hof getuig, is die eerste keer is dat hy dit hoor. Hy stel dit aan Malan dat hy nie vir Henri reguit na die distriksgeneesheer geneem het nie, maar eers by die Stellenbosch-polisiekantoor aangedoen het.

Malan gee toe en sê dat hy wel eers daar gestop het om vorms en getuienissakke op te tel. Hy het dit nie in sy eie verklaring genoem nie omdat hy dit nie as belangrik geag het nie.

Die hof verdaag tot Maandag.

Vroeër vandag

Nadat Henri van Breda die voormiddagsessie in die verste hoek van die beskuldigdebank deurgebring het, het hy ná die voortsetting Donderdagmiddag weer sy gewone plek in die bank ingeneem. Adv. Pieter Botha het voortgegaan met sy kruisondervraging van die patoloog, dr. Anthony. Hy vra aan haar of die beserings aan Martin van Breda se rugkant veroorsaak kon word deur die aanvaller wat hom van voor af in iets soos ’n rugbygreep ("tackle") vasgevat het. Anthony sê dis moontlik indien Martin afgekyk het en nie sy aanvaller in daardie posisie gesien het nie. Botha sê sy kliënt se weergawe lui dat die “slaapkamerligte skielik aangegaan het” en dat sy pa die kamer binnegekom het. Hy het op die bed oor Rudi beweeg in die rigting van die aanvaller - asof hy die aanvaller wou takel. Martin is egter deur die byl getref en sy liggaam het slap geword.

Anthony wil eers meer inligting bekom voor sy oor die moontlikheid van die “takelposisie” kan getuig. Sy gee toe dit is moontlik dat die beserings opgedoen kon word toe die aanvaller hom na Martin sou gewerp het (“lunged”).