Op die 18de dag van die opspraakwekkende bylmoordverhoor in die Wes-Kaapse hooggeregshof, het Henri van Breda Donderdag versoek om in die verste hoek van die beskuldigdebank te sit. Adv. Pieter Botha (vir Henri) het aangevoer sy kliënt wil nie die foto’s van die misdaadtoneel sien nie.

Dr. Daphné Anthony, ’n patoloog verbonde aan die Tygerberg-hospitaal, is vandag in die getuiebank. Sy praktiseer sedert Mei 2009 as patoloog.
Sy het op 29 Januarie 2015 die geregtelike doodsondersoeke op Teresa, Martin en Rudi van Breda uitgevoer. Anthony getuig al drie is weens traumatiese kopbeserings dood.
Sy onderskei tussen die verskillende soorte breinbeserings – van gefokusde impak tot verspreide impak. Sy getuig ook dat daar onderskei kan word tussen ’n wonde weens ’n worsteling en verdedigingswonde. Rudi van Breda Rudi het kop- en breinbeserings gehad. Hy het ook wonde aan sy knie en albei hande gehad.
Van die wonde aan sy kop en nek is deur ’n skerp voorwerp veroorsaak en ander deur ’n stomp voorwerp.
Sy skedel was gekraak, hy het breinbeserings opgedoen, sy linkerlong het platgeval en daar is bloed in sy maag gevind. Die kleur van sommige van sy organe het haar tot die gevolgtrekking laat kom dat die kopbesering die oorsaak van Rudi se dood was. Die bloed in sy maag is ’n aanduiding dat hy lank genoeg geleef het om die bloed te kon afsluk.

Anthony beskryf die verdedigingswond aan Rudi se linkerpinkie as ’n manier waarop jy jou kop met jou hand sal beskerm – palm na buite (weg van jou gesig af).

Op ’n vraag van regter Siraj Desai of Rudi pyn sou ervaar het, antwoord sy bevestigend. Dit sou baie pynlik gewees het. Sy het bloed op sy gesig, in sy hare en op sy lyf gevind. Daar was ’n oppervlakkige snywond van 70 mm by 10 mm op sy linkerbobeen en ’n tweede wond van 70 mm by 20 mm, met ’n skerp voorwerp toegedien, links op sy agterkop. ’n Derde wond is ’n kapwond wat deur ’n swaar, skerp voorwerp toegedien is – normaalweg veroorsaak deur ’n bonkige voorwerp wat met aansienlike geweld en spoed teen die liggaam gebruik is.

Anthony beskryf van die 11 wonde wat sy aan Rudi gevind het: ’n wond van 200 mm x 40 mm links agter op sy skedel, ’n kapwond van 160 mm x 25 mm, en wonde 8, 9 en 10, wat deur die impak van ’n stomp voorwerp op sy been veroorsaak is. Sy maak ook bekend dat daar sigbare breinweefsel was. Minstens drie van die wonde aan Rudi se kop kon sy dood veroorsaak het. Hy is met soveel geweld geslaan dat dit frakture van sy skedelvloer veroorsaak het.
Martin van Breda Martin het ook nie onmiddellik gesterf nie. Bloed in sy longe en maag dui daarop dat hy asemgehaal en bloed gesluk het.
Anthony getuig die oorsaak van Martin se dood was sy kopbesering, asook die gevolglike bloedverlies en breinbeserings. Hy is heel moontlik van agter aangeval. Die gebrek aan verdedigingswonde dui daarop dat hy waarskynlik onbewus was van die aanval. Teresa van Breda Sy het wonde aan haar neus en rug gehad. Daar is tekens van ’n verdedigingswond op haar regterduim.

Sy het ’n ernstige kopbesering opgedoen en aansienlike bloedverlies gely. Teresa het vermoedelik op haar linkersy geval en so kneusings opgedoen. Die geringe trauma aan haar neus dui moontlik daarop dat sy op haar gesig te lande gekom het.

Aan die regterkant van haar skedel is daar verskeie los beenfragmente en breinweefsel wat met die blote oog gesien kan word – die gevolg van ’n kapwond. ’n Tweede wond van 65 mm x 14 mm is aan die voorkant van haar skedel. Teresa het ’n verdedigingswond van 20 mm aan haar regterduim. Dié is deur ’n skerp voorwerp veroorsaak. Dit dui daarop dat sy haarself probeer verdedig het terwyl die wond teen haar kop toegedien is. Sy moes na haar aanvaller gekyk het.

Die afwesigheid van bloed in haar maag dui daarop dat sy dadelik gesterf het.