André du Toit, broer van die vermoorde Teresa van Breda, het daarop die hof verlaat. Henri, wat onder meer van die driedubbele moord op sy ouers en broer aangekla word, het weggedraai sodat hy nie die televisieskerm kon sien nie.

Die staat, onder aanvoering van adv. Susan Galloway, wil die video wys sodat bewysstukke in plek gesien kan word. Dit handel oor die moontlikheid dat met die misdaadtoneel gepeuter is terwyl foto’s geneem is.

Met die trap na bo kan ’n mens die byl op die middelste deel sien. Daar is bloed aan die byl.

Die video begin met die buitekant van Göskestraat 12, De Zalze-landgoed. Dis ’n sonnige dag. Polisieslint sper die gebied af. Daarna beweeg ao. André Hitchcock met die videokamera na die binnekant van die huis.

Bebloede voetspore en bloedspatsels kom in beeld. Die spatsels is sigbaar op die vloere en laer gedeeltes van die mure.

In Martin van Breda se kantoor lê papiere op sy lessenaar. Die kamera beweeg terug na die sitkamer. ’n Bloedsmeersel is op die mat sigbaar. Ook ’n paar skoene.

In die kombuis is ’n oop sigaretpakkie op die toonbank, ’n paar uitgebrande sigarette op die vloer. Ook sigbaar is ’n halwe bottel wyn en ’n oop messelaai.

Daar’s ’n klein bloedvlek aan die deur na die spens.

Dan word na ’n ander deel van die huis beweeg. Daar’s geen diefwering aan die vensters nie. Die vensters is oop. Aan die buitemuur is ’n klein bloedvlek.

Met die trap na bo kan ’n mens die byl op die middelste deel sien. Daar is bloed aan die byl.

Teresa se liggaam is ook daar, langs ’n boekrak.

Martin se liggaam lê oor die bed wat die naaste aan die twee broers se kamerdeur is, Rudi aan die voetenent van die tweede bed.

Die mat tussen Rudi en Henri se beddens, waar die gesin se hond se bed ook is, is vol bloed. ’n Stuk van die mes steek uit onder Martin se liggaam.

In Marli se kamer is daar ’n kantoorstoel voor ’n lessenaar en tekkies in ’n hoek. Die bed lyk of iemand daarin geslaap het. Haar foon is nog aan die herlaaier gekoppel.

Kapt. Danie van der Westhuizen, skoenafdrukkenner, getuig daar is 38 skoenafdrukke in die huis geneem waarvan 36 geïdentifiseer is.

Die saak gaan Maandag voort.