Die oggendsessie van die elfde dag van die Van Breda-moordsaak was ’n harige affêre - nie net spog Henri van Breda (wat teregstaan op die driedubbele bylmoord van sy ma, pa en ouboet) met ’n korter haarstyl nie; die verdediging het hare gekloof oor die getuienis van die staat se forensiese wetenskaplike.

Lt.kol. Henry James Stewart, ’n haarspesialis, het getuig ’n haarmonster wat met dié van Henri ooreenstem, is in sy kleinsus, Marli, se handpalm gekry ná die wrede aanval op die Van Breda-gesin in hul spoghuis op die De Zalze-gholflandgoed buite Stellenbosch.

Die 17-jarige het die aanval merkwaardig oorleef, maar haar erge kopbeserings het meegebring dat sy aan retrograde amnesie ly en sy kan niks van die aanslag op haar gesin in die vroeë oggendure op 27 Januarie 2015 onthou nie. Haar ma Teresa, pa Martin en ouboet Rudi is dood op die toneel aangetref.

Volgens hom moes die hare met geweld verwyder word.
Hy gee wel toe dat die hare in haar hand kon beland sou sy byvoorbeeld die mat vasgegryp het waarop die hare kon wees.

Adv. Pieter Botha het Stewart behoorlik gekasty rondom sy kennis van aan wie die haarmonsters behoort het.

Hy het aangevoer die forensiese wetenskaplike mislei die hof omdat hy ook hare wat nie geeïen kon word in Marli se hande gevind het en dit nie in sy verslag aangedui het nie.

Hy is ook van mening dat Stewart geweet het met wie se haarmonsters hy werk en die objektiwiteit van sy getuienis en verslag in twyfel getrek. Kort na die polisieman - met byna 20 jaar ervaring in sy veld - begin getuig het, het Henri sy hand opgesteek en gevra dat die getuienis in Engels voortgaan omdat hy nie sou kon byhou met die tegniese terme in Afrikaans nie.

Die 22-jarige Henri is vandag in ’n deftige blou pak met ’n kleurvolle das geklee en het kort na die saak vir middagete verdaag het, met sy oom André du Toit, Marli se voog, in die hofgange gesels. Ná ’n gesprek van sowat tien minute het hy die hofgebou verlaat.

André, Henri se oom aan moederskant, sit byna elke dag op dieselfde plek aan die regterkant van die hofgalery en luister aandagtig na die hofverrigtinge. Die saak gaan na middagete voort wanneer Stewart se kruisondervraging voortgesit word.