Foto’s van bloedspatsels teen die mure, asook ’n foto van Teresa van Breda se kaal bene in ’n plas bloed is in die hof gewys.

Combrink het verwys na bloedmerke aan haar linkerbeen en enkels en genoem dat daar geen seer- of kapplekke daar is nie. Hy het dit aan die hof genoem dat die merke dalk deur hardhandige behandeling van die nooddienste meegebring is.

Combrink het ook foto’s uitgelig van ’n draagbaar en na die skerp metaalpunte van die draagbaar verwys. Brown het toegegee Teresa se merke kon van die draagbaar afkomstig gewees het.


In hierdie stadium het Henri van Breda ’n vinnige glimlag gegee, terwyl hy deurentyd met ’n ring aan sy vinger gespeel het.

Brown het egter daarby volstaan dat dit wel moontlik is dat die merke deur ’n byl veroorsaak kon wees.

Regter Siraj Desai het gevra of daar enige ander skerp voorwerpe is wat moontlik die merke kon veroorsaak het. Brown het ja geantwoord.

Op een van die foto’s wat Combrink gedeel het, is plasse bloed met iemand se broek wat daarin lê.

Hy het gesê daar is ’n stukkende teël op een foto wat nie in ’n latere foto is nie, wat dui op skade wat plaasgevind het nadat die bloed drooggeword het.

Volg die verrigtinge regstreeks hier